Central SA
Beleggingslenter: Bloemfonteinse ma, seun se saak uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Fri, 31 Jan 2025
’n Bloemfonteinse ma en seun wat daarvan aangekla word dat hulle duisende rande met ’n beweerde onwettige beleggingskema gesteel het, sal weer in Maart in die hof verskyn.
Die saak teen Pontsho Faith Lepoqo (60) en Sebotsa Washington Lepoqo (34) is tot 19 Maart uitgestel om regsverteenwoordiging te reël, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, NVG-woordvoerder.
Die verdagtes het Woensdag (29/1) die tweede keer voorgekom ná hul eerste verskyning in die Ladybrand-landdroshof op 8 Januarie 2025.
Die Valke het die verdagtes die vorige dag in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste, asook die Bankwet, sê Mohobeleli.
Die twee word daarvan beskuldig dat hulle ’n onwettige beleggingskema deur ’n maatskappy genaamd MTS General Trading bedryf het. “Slagoffers is 30%- rente per maand belowe.
Inwoner het glo 905 000 in skema belê
“Hulle het klagte aanhangig gemaak toe die beloofde opbrengste nie betaal is nie,” sê Mohobeleli. Meer as tien inwoners van Ladybrand het glo altesame R905 000 in die skema belê.
Mohobeleli vra dat enige ander potensiële slagoffers kontak maak met speurkonst. Lineo Ralejalla by 082 799 1000.
In ’n afsonderlike bedrogsaak moet Antonio Richard Macdonald (61) weer op 10 Maart in die hof verskyn in verband met beweerde bedrieglike eise van altesaam meer as R1 miljoen vir Covid-19-bystand.
Slagoffers is 30%- rente per maand belowe
Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad het Macdonald Maandag aangekeer, waarna hy later die dag in die hof verskyn het, het ao. Fikiswa Matoti, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê. Die eienaar van Radius Sales Merchandising staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery. Borgtog van R5 000 is aan hom toegestaan.
Macdonald word daarvan aangekla dat hy tussen 27 Maart 2020 en 29 Junie 2021 bedrieglike aansoeke om die Covid-19-werkgewer-werknemer-verligting (Ters) namens werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien het. Die fonds het eindelik R1 082 646 in tien betalings uitbetaal.
’n Interne ondersoek het aan die lig gebring drie mense wat as werknemers in die Ters-aansoeke gelys is, is in werklikheid Lesotho-burgers wat onwettig in Suid-Afrika woon.