Central SA
Noordwesters vas weens renosterstropery─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:05 Fri, 31 Jan 2025
Twee verdagtes wat in Noordwes vir renosterstropery in hegtenis geneem is, sal volgende week weer in die hof verskyn.
Eric Ndlovu (47) het reeds Donderdag (30/1) in die Zeerust-landdroshof verskyn waar sy saak tot Woensdag uitgestel is vir ’n moontlike borgtogaansoek. Intussen sal die tweede verdagte Maandag sy eerste verskyning in dieselfde hof maak.
Die inhegtenisnemings is uitgevoer deur ’n spesialisspan van Lehurutshe se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, Rustenburg se taktiesereaksie-eenheid, Madikwe-wildreservaat se teenstropingseenheid en amptenare van Sanparke, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Ndlovu is Dinsdag by Hartbeesfontein-polisiekantoor aangekeer, waar hy reeds aangehou is vir vermeende renosterstropery vroeër vandeesmaand.
Sam Khosa, Benett Silahle en Odis Maluleke. Foto verskaf
Ndlovu word daarvan verdink dat hy tussen Junie en Augustus 2023 by vier gevalle van stropery in die Madikwe-wildreservaat betrokke was. Ondersoeke na hierdie sake het gelei tot die uitkenning van ’n tweede verdagte.
Mokgwabone sê verdere ondersoeke het die span gelei na Soshanguve, Gauteng, waar die tweede verdagte Donderdag aangekeer is. Dit bring die totale getal inhegtenisnemings wat met die Madikwe-sake verband hou, op ses te staan.
Saak steeds hangend
Die aanvanklike vier verdagtes is tussen Oktober 2023 en Maart verlede jaar in hegtenis geneem. Mokgwabone sê hul saak is steeds hangend.
“Benewens sy betrokkenheid by die renosterstropery-saak, word Ndlovu deur afsonderlike aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die gesig gestaar, wat spruit uit sy inhegtenisneming tydens ’n taktiese operasie in Rustenburg op 8 Januarie, waar hy met die Hartbeesfontein-stroperyvoorval verbind is.
Intussen is drie stropers van Limpopo swaar vonnisse opgelê. Sam Khosa (33) en Odis Maluleke (49) het Maandag elk 22 jaar tronkstraf gekry, terwyl Benett Silahle (39) tot vier jaar tronkstraf gevonnis is.
Die skuldigbevindings sluit aanklagte van oortreding, sameswering om ’n misdryf te pleeg, die dood van ’n renoster, besit van ’n vuurwapen en besit van gevaarlike wapens in, sê Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder in Limpopo.
Maluleke is ook gevonnis vir die oortreding van die Immigrasiewet.