Central SA
Moeilike herstelwerk lê voor nadat vragmotor teen Kimberleyse kerk vasry─── 10:27 Fri, 24 Jan 2025
Lidmate van ’n kerk in Kimberley hou vereers eredienste in die konsistorie nadat ’n vragmotor groot skade aan hul kerkperseel aangerig het.
Ds. Hennie Briel van die Gereformeerde Kerk Kimberley vertel die grootste skade is aan die kerkgebou aangerig nadat ’n swaar vragmotor deur die kerk se heining gebars en teen die gebou tot stilstand gekom het.
Die skade, veral aan die struktuur, word op sowat R1 miljoen beraam. Foto verskaf
“Dis omtrent ’n jaarlikse instelling dat daar ’n vragmotor of motor op die kerkterrein beland!” skerts Briel.
Die bestuurder het op die N12, wat verby die Gereformeerde kerkperseel loop, beheer verloor nadat hy na bewering moes uitswaai vir ’n motor wat skielik voor hom stilgehou het.
Die massiewe boomstomp het die vragmotor in die rigting van die kerkgebou gedwing. Foto verskaf
Die vragmotor het die duiwelvurkheining getref asook ’n massiewe boomstomp op die kerkterrein. Dit blyk dat dié boomstomp die vragmotor in die rigting van die kerkgebou gedwing het, waar die ergste skade aangerig het. Die bestuurder het geringe beserings opgedoen nadat hy tydens impak in die kajuit rondgegooi is.
“Die kerk bestaan uit ’n staalstruktuur, wat toegebou is,” vertel Briel. “Van die panele, wat baie hoog is, is erg beskadig, en daar is ook skade aan die fondasie.” Van die kerkgebou se vensters het gebars.
Die gebou is te onveilig om voort te gaan met kerkdienste. Die gedeelte waar die skade aangerig is, word afgesper en alle kerklike byeenkomste vind plaas in die konsistorie totdat herstelwerk eendag afgehandel is.
Die vragmotor se nommerplaat op die ongelukstoneel. Foto verskaf
Die kerkraad wag nog op die finale verslae van hul versekeraar, maar die skade word op sowat R1 miljoen beraam. Die stene waarmee die kerkgebou toegebou is, is moeilik bekombaar, wat die herstelwerk kan vertraag.
Die eienaar van die vragmotor het reeds die heining herstel en ’n boom verwyder wat in die slag gebly het. Hy gee sy volle samewerking met die ondersoek, sê Briel.
Die stene waarmee die kerkgebou toegebou is, is moeilik bekombaar. Foto verskaf
Die grootste kommer is die skade aan die kerkgebou. Spesiale toerusting sal moontlik benodig word vir die herstelwerk.
“Die Christusteken is teen die muur (wat beskadig is) uitgebou en die herstel daarvan gaan gesofistikeerd wees,” sê Briel. “Daar moet ook gekyk word of daar nie aan die struktuur iewers nog skade is nie. Dit kan die proses verder bemoeilik.’’
Oor die feit dat daar byna jaarliks vragmotors of motors op die kerkterrein beland, vertel Briel, dat dit gewoonlik voertuie is wat uit Gauteng se rigting kom omdat die pad se oppervlak op ’n spesifieke plek ongelyk is. Dié keer het die vragmotor uit die teenoorgestelde rigting gekom het, waar die pad gelyk is.