Central SA
Drie kinders sterf in ongeluk buite Bloemfontein─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:56 Fri, 24 Jan 2025

’n Derde kind het beswyk ná ’n noodlottige ongeluk op die N8 buite Bloemfontein.
Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die ongeluk aan die oostekant van die stad waarin twee kinders ook op slag dood is.
Die Spark se een deur het aan die Hilux-bakkie se rooster bly vassit. Foto verskaf
Navalsig-polisie het Vrydag omstreeks 07:40 op ’n oproep gereageer oor ’n ongeluk oorkant die Superspar waarin ’n Chevrolet Spark en ’n Toyota Hilux betrokke was, sê sers. Mahomela Kareli.
’n Vrou en vier kinders was in die Spark onderweg. Die bestuurder van die bakkie was alleen in die voertuig toe die ongeluk gebeur het waarin twee kinders, ’n seuntjie (6) en ’n meisie (11), hul lewe verloor het, sê Kareli.
Agt op toneel behandel
Beamptes het met die ma en nog twee kinders, asook die bakkiebestuurder, hospitaal toe gejaag, waar die derde kind later gesterf het.
Kareli het laat Vrydagmiddag gesê geen van die slagoffers kan nog uitgeken word nie. Hulle ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Die nood- mediese diens VR Medical sê drie voertuie was betrokke in die ongeluk by die verkeersligte by die Superspar-sentrum. Agt pasiënte is op die toneel behandel. Twee mense (onder wie die kind wat later gesterf het) is hospitaal toe gebring met kritieke beserings en vier met geringe beserings.
Paramedici op die toneel ná die noodlottige ongeluk. Foto verskaf
Luidens ander berigte het die bakkie, wat ’n sleepwa gesleep het, gerol ná die botsing met die voertuig wat skoolkinders vervoer het.
VR Medical waarsku die video van die ongeluk wat die ronde doen, is op ’n aktiewe misdaadtoneel geneem. “Enigeen wat dit deel, kan regtens vervolg word. Neem dus asseblief die betrokke naasbestaandes in ag.”
Facebook-gebruikers stem saam. “Daar is ’n video opgesit van hierdie ongeluk waar dit baie wys en dis verskriklik ontstellend; my hart is baie seer (nadat) ek dit gesien het,” skryf Hester van der Berg.