Central SA
Vrystaatse uitblinker volg sy passie, rolstoel en al─── 12:31 Fri, 24 Jan 2025
Een van die Vrystaat se 100 beste matrieks van 2024, Kananelo Sibusiso Raleting van Botshabelo, kan sy droom begin verwesenlik nadat hy as student ingeskryf het aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in Bloemfontein.
Kananelo leef met serebrale gestremdheid en kom oor die weg met ’n rolstoel.
“Ek was oorweldig met angs en het ’n ongekende vrees gehad dat ek weens my toestand verwerp sou word voordat ek vanoggend na SUT gekom het,” het hy aan Seithati Semenokoane, mediabeampte van SUT, gesê.
Rolstoelvriendelike kampus
“Met my aankoms het ek ’n hartlike verwelkoming ontvang en is sonder enige probleme bygestaan. Ek is trots en bly om te sê ek is ’n geregistreerde student en in goeie hande! Al die geriewe is rolstoelvriendelik en ek kan gemaklik op die kampus oor die weg kom.”
Kananelo Raleting het aan die Martie du Plessis-skool gematrikuleer. Foto: Facebook/Vrystaatse departement van onderwys
Kananelo het geregistreer vir ’n diploma in inligtingstegnologie, ’n passie wat hy van kleins af het. Sy pa, ’n sleutelfiguur in sy lewe, het sy belangstelling in IT aangewakker en hom op ’n jong ouderdom aan die wêreld van tegnologie en rekenaars voorgestel.
Hy het aan die Martie du Plessis-skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes gematrikuleer. Hy was een van die leerders aan wie hulde gebring is op die Vrystaat se Welgedaan-geleentheid, waar diegene vereer is wat nie net in hul skoolwerk uitgeblink het nie, maar ook groot uitdagings oorkom het.
‘Laat hom nie deur sy omstandighede definieer nie’
Weens Kananelo se serebrale gestremdheid – ’n aangebore afwyking wat beweging, spiertonus en postuur beïnvloed – kan hy nie sonder ’n rolstoel oor die weg kom nie.
“Hierdie fisieke toestand, tesame met ander persoonlike uitdagings, het sy onderwyspad besonder moeilik gemaak,” sê die Vrystaatse departement van onderwys oor sy prestasie.
Juliet Setshego, ’n laboratoriumassistent van SUT neem Kananelo deur die registrasieproses. Foto: SUT
“Hy sê hy nooit toegelaat dat hierdie omstandighede bepaal wie hy is nie, maar het sy passie vir leer en ’n onwrikbare vasberadenheid gebruik om vorentoe te beweeg.
“Wat Kananelo onderskei, is sy onversetlike deursettingsvermoë. Sy uiteindelike doel is om sy gesin finansiële vryheid te bied, en hy verstaan dat onderrig die sleutel is om dit te bereik.
Stap vir stap nader aan sy droom
“Sy harde werk, lewenskragtigheid en toewyding aan sy studies bring hom stap vir stap nader aan sy droom en dien as ’n inspirasie vir ander wat ook swaarkry in die gesig staar.
“Hy is nie net ’n uitblinker nie; hy is ’n simbool van hoop, deursettingsvermoë en die krag van opvoeding om lewens te verander. Sy verhaal is ’n skitterende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer ons weier dat omstandighede ons potensiaal beperk.”
Kananelo Raleting is deur nog ’n topleerder van Grey Kollege bygestaan om sy pryse van die Vrystaatse premier en LUR van Onderwys te ontvang. Foto: Facebook/Vrystaatse provinsiale regering
“Ek sien uit daarna om nuwe vriende te maak, my ouers trots te maak en my universiteitslewe te geniet. Dit is my kans, en ek gaan die meeste daarvan maak,” sê Kananelo.
Hy moedig medegestremdes aan om in hul vermoëns te glo en nie toe te laat dat die wêreld hulle inperk nie. “Enigiemand kan wees wat hulle in die lewe wil hê. As jy jou gedagtes daarop fokus, sal jy dit bereik!”
OFM Nuus cg