Central SA
Vreedsame diensleweringsoptog vir Lichtenburg beplan─── ZENANDE MPAME 06:00 Fri, 24 Jan 2025
Lichtenburgers neem Vrydag (24/1) deel aan ’n vreedsame protesoptog om beter dienslewering vir die gemeenskap te eis.
Dit is veral gemik op die voortdurende kragonderbrekings en waterafsluitings waarmee inwoners te kampe het ten spyte van herstelwerk wat twee weke gelede begin het.
Die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit het ’n R300 000-deposito betaal vir nuwe drukpompe om die waterprobleme op Lichtenburg te verlig, maar inwoners is ontevrede met die herstelwerk.
Deelnemers aan die optog sal die oggend ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die Ditsobotla-munisipaliteit oorhandig, sê Fanie du Toit, Bastion SA-lid.
’n Verklaring is uitgereik waarin versoek word dat eienaars hul ondernemings sluit ter ondersteuning van die optog, sê Du Toit, maar hulle steun dit nie, “weens die onrus en herhaalde protesoptrede wat die laaste paar maande in Lichtenburg plaasgevind het.
“Ondernemings kan dit nie bekostig om toe te maak nie en volgens die polisie moet hulle oopbly. Die organiseerders van die optog moet toesien dat dit nie gewelddadig raak nie.”
Inwoners sal by die Toyota-handelaar oorkant die spoorwegmuseum byeenkom en dan om 10:00 na die munisipale geboue stap. Nadat die memorandum oorhandig is, sal die skare uitmekaargaan en na die taxistaanplek beweeg. “Daar is reeds ’n groot polisieteenwoordigheid op Lichtenburg en hulle hanteer hierdie situasie proaktief,” sê Du Toit.
OFM Nuus het vroeër berig dat gefrustreerde inwoners van Lichtenburg al sedert Desember sonder elektrisiteit is en dus ook sonder lopende water. Die kragtoevoer word soms vir ’n paar uur herstel, waarna dit weer onderbreek word.
Die installasie van drukpompe het Vrydag 10 Januarie op Coligny begin en dít het Lichtenburgers daartoe gelei om paaie te blokkeer uit pure frustrasie, aangesien hulle al langer as Coligny sonder water is.
Die polisie het gewaarsku dis onwettig om paaie te versper. Die Wet op Byeenkomste laat vreedsame betogings toe, solank dit nie die regte van ander mense skend nie.