Central SA
Vermeende veediewe aangekeer naby Botswana-grens─── 15:39 Fri, 24 Jan 2025
Twee vermeende veediewe kom weer in Maart voor in die Mmabatho-landdroshof nadat hulle in besit van ’n vermoedelik gesteelde beeskarkas betrap is.
Noordwes-polisie het Tshegofatso Jacob Mekgwe (35) and Mohau Eric Plaatjie (23) Sondagaand (19/1) in hegtenis geneem in die omgewing van Tshidilamolomo, sowat 100 km wes van Mahikeng aan die Botswana-grens, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hulle het onderskeidelik Dinsdag en Woensdag voorgekom en is borgtog van R1 500 elk toegestaan, en moet weer op 18 Maart in die hof verskyn.
Brandmerke op die karkas het gehelp om die eienaar op te spoor. Foto verskaf
Die twee vermeende veediewe is aangekeer ná ’n wenk van die publiek, sê Myburgh. “Met behulp van die brandmerke op die karkas kon vasgestel word dat die eienaar van die bees een van die verdagtes se werkgewer is.”
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, loof die beamptes vir hul vinnige optrede, wat daartoe gelei het dat die karkas teruggekry en die verdagtes in hegtenis geneem is. Hy moedig alle vee-eienaars aan om hulle diere te merk omdat dit veel kan doen om oortreders aan die kaak te stel.
Op Vrystaatse plaas betrap
Intussen het twee verdagtes Vrydag (24/1) vlugtig voorgekom in die Ficksburgse landdroshof ná die moord op ’n buitelander wat op heterdaad betrap is met drie sakke klere en kruideniersware wat glo uit ’n plaashuis gesteel is, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die twee verdagtes het die slagoffers glo Woensdag omstreeks 16:30 gewaar toe hy uit die plaashuis te voorskyn kom met drie sakke, sê Mophiring. Hulle het vasgestel dat hy toegang verkry het deur ’n deur oop te breek.
‘Oorledene is uitgeken as burger van nabygeleë Lesotho’
Toe hulle hom nader, het die vermeende inbreker na bewering met ’n skêr op hulle afgestorm. Hulle kon hom oorweldig en hom glo met ’n knopkierie en ’n stok te lyf gegaan tot hy sy bewussyn verloor het.
Nood- mediese beamptes het hom later op die toneel dood verklaar, sê Mophiring. Die oorledene is uitgeken as ’n burger van die nabygeleë Lesotho. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en word van moord aangekla.
OFM Nuus cg