Central SA
Griqua Diamonds hou proewe vir rasieleierspan─── ZENANDE MPAME 10:29 Fri, 24 Jan 2025
Proewe vir die Griqua Diamonds-rasieleiers word Saterdag (25/1) in Kimberley gehou.
Deelnemers aan die proewe in die Suzuki-stadion sal ’n eenminuut-dansroetine van hul keuse moet uitvoer, en die keuring word gegrond op dansvermoë, buigsaamheid en vertoonvaardighede.
“Ek gee mense kans om hul talent ten toon te stel en bied hulle die geleentheid om by ’n span aan te sluit wat toegewyd is om die Griekwa-rugbyspelers te ondersteun,” sê Bridgitte Potgieter, Griqua Diamonds-afrigter.
‘Bring energie, geesdrif en passie’
“Dit is ’n splinternuwe rasieleier-en-dansspan wat energie, geesdrif en passie na elke rugbywedstryd wil bring om die ondersteuners en spelers saam te snoer met ’n dinamiese gees.”
Volgens haar gaan dit oor meer as net ’n optrede: Dit is ’n kans om die skare aan te vuur, die span te inspireer en deel te wees van ’n spesiale wedstryddag-ervaring.
Die proewe is oop vir meisies in hul laaste skooljare en diegene bo 18 jaar.
Hoërskoolleerders onder 18 se ouers moet toestemming gee om by die Griqua Diamonds aan te sluit.
‘Dansvaardighede, rasieleiervermoëns die hooffokus’
Potgieter, oorspronklik van Amerika, woon al jare in Kimberley. Sy was ’n rasieleier op laer- en hoërskool asook universiteit. Sy dien as voorsitter van die Federasie vir Dansmars, Rasieleiers en Trompoppies in die Noord-Kaap.
“Toertjies, dansvaardighede en rasieleiervermoëns sal die hooffokus van die Griqua Diamonds wees, nie skramse kostuums nie,” sê Potgieter. “Mense wat beplan om aan die proewe deel te neem, moet hul kreatiwiteit en spanbougees saambring.”
Sy waarsku Saterdag gaan snikheet wees. “Bly gehidreer en sluit by my aan om geskiedenis te maak!”