Central SA
Driehoek-slimkop volg in ingenieurspa se voetspore ná sewe onderskeidings─── 13:41 Tue, 14 Jan 2025
Elbie Venter, Hoërskool Driehoek se onderhoofmeisie en Duxleerling van 2024, spog met onderskeidings in al sewe haar vakke.
Dié slimkop se slim kop staan nou meganiese ingenieurswese toe. Hiervoor het sy reeds by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom ingeskryf.
OFM Nuus het met Elbie gesels pas ná haar besoek aan ’n fisioterapeut. “Ek het met al die geleer in November rugprobleme en spasmas ontwikkel van al die vooroor gebuk sit en leer,” vertel sy.
“Dit gaan darem al beter.”
Elbie Venter is in 2024 as Hoërskool Driehoek se Duxleerling aangewys. Foto: Facebook/Hoërskool Driehoek
Sy het ’n heerlike matriekwegbreek agter die rug. “Ek was op die MSC se matriekboot gewees, ons het van Durban na Mosambiek gevaar en daar aan land gegaan.
“Daar was sangers en spesiale programme vir al die matrieks op die boot. Dit was ongelooflik lekker!”
Terug op vaste grond en by meer ernstiger sake: Elbie het onderskeidings in al sewe haar vakke verwerf, naamlik Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie, ingenieursgrafika en ontwerp.
Volg in Pa se voetspore
Elbie is die dogter van Werner en Louise Venter. Sy is in 2024 by Hoërskool Driehoek se prysuitdeling as die Duxleerling aangewys, berig Vaalweekblad.
Nou staan haar kop meganiese ingenieurswese toe, wat sy in Potchefstroom by die Noordwes-Universiteit gaan studeer.
“My pa is ’n ingenieur, ek volg in sy voetspore. My broer Markus studeer ook daar. Naby genoeg aan die huis, maar ver genoeg om jou eie ding te doen.”
Elbie Venter het vanjaar ’n nasionale 1ste plek in die afdeling Afrikaans Huistaal (voorbereid) behaal in die Oppie Tong Af Redenaars-kompetisie. Foto: Facebook/Hoërskool Driehoek.
Dit volg nadat sy van graad agt tot 12 ’n indrukwekkende akademiese gemiddeld van 89,05% behaal het. Haar gemiddeld vir die onderskeie jare was: Graad 8 (93%), Graad 9 (92%), Graad 10 (89%), Graad 11 (85%) en Graad 12 (90,14%).
Elbie het in 2024 as onderhoofmeisie op Hoërskool Driehoek se matriekraad gedien. Sy het ook oor die jare akademiese erekleure en verskeie vaktrofeë verwerf, en telkens deurgedring na die nasionale eindronde van verskillende redenaarskompetisies, insluitend ATKV en Oppie Tong Af.