On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Diewe steel al vragmotor se sleepwabande op N3-hoofweg

───   12:03 Tue, 14 Jan 2025

Diewe steel al vragmotor se sleepwabande op N3-hoofweg | News Article
‘n Skermgreep van die vragmotor wat se sleepwabande gesteel is. Foto: SA Trucker

Die bestuurder van ’n vragmotor het vasgebind in sy kajuit gelê terwyl diewe al die bande van die twee sleepwaens wat die vragmotor getrek het, gesteel het. Slegs die bande op die vooras van die vragmotor is gespaar.

Die voorval het die naweek (11/1) op die N3 noordwaarts, naby die Frankfort-afrit, gebeur. Die vragmotor was in die noodbaan langs die nasionale pad geparkeer toe die diewe toeslaan.

Hulle het al die bande van die twee sleepwaens gesteel en met klippe vervang, waarna hulle gevlug het, lui ’n berig op SA Trucker se webwerf.

Bestuurder ongedeerd maar getraumatiseerd

’n Verbygaande vragmotorbestuurder het die ongewone gesig van ’n vragmotor op hope klippe opgemerk en stilgehou om ondersoek in te stel. Dit is toe dat die vasgebinde bestuurder in die kajuit ontdek is en die polisie in kennis gestel is. Na verneem word, is die bestuurder ongedeerd maar diep getraumatiseerd.

’n Video wat deur die vragmotorbestuurder op sosiale media gedeel is, wys die sleepwaens op klippe waar hul bande eens was.

“Hierdie voorval beklemtoon die kommerwekkende toename in banddiefstal, ’n groot kwessie wat Suid-Afrika se vragmotorbedryf teister,” lui die berig van SA Trucker. “Bestuurders wat langs die pad parkeer, hetsy om te rus of wanneer hul vragmotor onklaar raak, word toenemend die prooi van kapers of diewe wat waardevolle bande teiken.

‘Diefstal van bande neem kommerwekkend toe’

“Vragmotorbestuurders word toenemend onderwerp aan swak werksomstandighede. Lang ure agter die stuur laat hulle dikwels te uitgeput om die naaste vragmotorhalte te bereik, wat hulle dwing om in onveilige gebiede te parkeer. Erger nog, sommige werkgewers weier om vir veilige parkeergeriewe te betaal, wat bestuurders se lewens en vragsekerheid verder in gevaar stel.

’n Skermgreep van die sleepwas wat sonder bande op klippe gelaat is. Foto: SA Trucker

“Banddiefstal is nie net 'n finansiële las nie, maar ook 'n veiligheidsrisiko, aangesien gestrande vragmotors gevare vir ander padgebruikers inhou. SA Trucker doen 'n beroep op werkgewers en owerhede om die veiligheid van vragmotorbestuurders ’n prioriteit te maak.”

Mense wat op Facebook kommentaar op die voorval gelewer het, sê die polisie moet werk daarvan maak om vragmotorbestuurders op die lang pad te ondersteun.

‘Vragmotorbestuurders maklike teikens’

“Ons vragmotorbestuurders is nou maklike teikens op ons paaie ... hulle moet veilig wees. Hulle werk is uitdagend genoeg. Hoop die bestuurder kry berading,” sê  Theresa Hilton van Straten.

“Gebruik ‘n goeie, gewapende sekuriteitwag,” is George Snodey se voorstel. “As die bestuurder stilhou om te rus, moet hy op wag wees. Terwyl hulle ry, kan die wag slaap. Ek weet dit is nie goedkoop nie, maar ek is redelik seker dit sal minder as een band kos, om nie te praat van 10 of meer nie.”

Dit is hartseer vir ons vragmotorbestuurders,” sê Wayne Jantjies. “Ons is lief vir ons werk maar is nie meer veilig nie. Alle vragmotorbestuurders gaan oorsee, want dit is nie veilig in ons land nie.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.