On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bring Hoop SA bring hoop vir kankerlyer

───   ELSABÉ DE JAGER 08:25 Tue, 14 Jan 2025

Bring Hoop SA bring hoop vir kankerlyer | News Article
Johann Fourie bly steeds positief en glo dat dit met hom sal beter gaan. Foto verskaf

“Ek wil nie kla nie, want ek is steeds geseënd en beter af as ander mense.”

Chris van Beljon, stigter van Bring Hoop SA, ’n organisasie sonder winsoogmerk, verwys na dié woorde van Johann Fourie, ’n hawelose man wat al 20 jaar breinkanker het en nie kan werk nie. Sy enigste inkomste is uit aas wat hy en sy seun bymekaarmaak en aan hengelaars op die strand verkoop.

Die samelewing is so geneig om verby hawelose mense te stap, hulle te vermy asof hulle melaats is en dan geen poging aanwend om hulp te verleen nie, sê Van Beljon. “Hoe moet dit wees om in erge pyn en bekommernis elke dag te leef en boonop nie te weet wat jy gaan eet of waar jy vanaand gaan slaap nie?”

Fourie, wat fase 4-breinkanker het, ondergaan ’n reeks chemoterapiebehandelings. Hy en sy seun kon, danksy geldelike hulp, die afgelope naweek in ’n blyplekkie intrek. “Met julle (Bring Hoop SA) hulp kon ek die deposito en eerste maand se huur betaal. Ons hoef minstens nie meer in ’n tent in die reën hier in Port Elizabeth (Gqeberha) te oorleef nie.”

Met die regte dieet sal Johann Fourie sterker kan raak. Foto verskaf

Van Beljon sê elke bydrae sal help om Fourie te voorsien van gesonde kos wat noodsaaklik is in hierdie tyd van sy siekte. Dit sal hom ook in staat stel om vervoerkoste te dek en sodoende te verseker dat hy elke hospitaalafspraak kan nakom. “Hy moes al soveel afsprake misloop omdat daar eenvoudig geen geld vir vervoer is nie.”

“Enige hulp sal Johann in ’n beter situasie kan plaas,” pleit van Beljon toe ons groet. “Graag wil ons Johann ook laat glo: Dit maak nie saak hoe groot jou storm vandag is nie, jy is nooit alleen nie.”

Bel Van Beljon by 082 961 6620 met enige navrae oor hulp vir Fourie.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.