On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Matriekuitslae: Vrystaat se vreugdevure brand nog hoër

───   22:16 Mon, 13 Jan 2025

Matriekuitslae: Vrystaat se vreugdevure brand nog hoër | News Article

Vreugdevure in die Vrystaat brand hoër as ooit tevore ná matrieks se rekordprestasie van ses uit ses vir beste slaagsyfer.

Boonop is die 91%-slaagpersentasie die hoogste syfer wat nog in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis behaal kon word.

Die Vrystaat kan – as pasaangeër – ook trots wees op al die provinsies wat slaagsyfers van 84% en hoër behaal het.


“Op provinsiale vlak is ek bly om aan te kondig dat elke provinsie op sy prestasie in 2023 verbeter het, en al die provinsies het ’n slaagsyfer van meer as 84% behaal,” sê Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys.

  • Die Vrystaat is die bes presterende provinsie met 91,0%, vergeleke met 89% in 2023.
  • KwaZulu-Natal is tweede met ’n slaagsyfer van 89,5%, ’n toename van 3,2 persentasiepunte.
  • Derde is Gauteng, wat sy slaagsyfer van 85,4% tot 88,4% opgeskuif het.
  • Noordwes behou sy vierde plek met 87,5%, ’n styging van 5,9 persentasiepunte.
  • Vyfde is die Wes-Kaap met 86,6%, 5 persentasiepunte meer.

Drie provinsies het ’n afgeronde slaagsyfer van 85% behaal:

  • Limpopo se 85,1% is 5,5 persentasiepunte meer as in 2023.
  • Mpumalanga toon ’n beduidende toename van 8 persentasiepunte tot 84,99%.
  • Oos-Kaap se slaagsyfer van 84,98% is 3,6 persentasiepunte meer.
  • Noord-Kaap is negende met 84,2%.

“Dit is ook belangrik om by te voeg dat die Noord-Kaap die provinsie is wat die meeste verbetering getoon het. Die provinsie het met 8,3 persentasiepunte gestyg teenoor 2023.”


Die Vrystaatse slaagsyfers die afgelope paar jaar lyk soos volg:

  • 2024: 91%
  • 2023: 89,03%
  • 2022: 88,5%
  • 2021: 85,7%
  • 2020: 85,1%
  • 2019: 88,4%

Ná jare se voortgesette harde werk is die ontwykende 90%-slaagsyferdrumpel eindelik oorgesteek.

Aan die begin van die Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen, was dr. Mamiki Maboya, Vrystaatse onderwys-LUR, vol vertroue dat die provinsie weer tops sal uitkom. 

“Ons is oor die maan, dit is ’n baanbrekende prestasie,” het Maboya pas ná die aankondiging gesê. “Vir die eerste keer in die geskiedenis van hierdie stelsel … 91%, dit het nog nooit gebeur nie! Ons is so trots op die leerders, die onderwysers, almal!”

Nie minder nie as 37 461 voltydse en 8 118 deeltydse Vrystaatse kandidate het hul eksamen by 396 eksamensentrums afgelê.

Die departement was nie net toegespits op die handhawing van die hoogste slaagsyfer nie, maar ook op die verbetering van die gehalte van die slaagsyfers, het Maboya gesê. “Ons streef daarna om onderwys van hoë gehalte te verskaf, en ons leerders het die volle ondersteuning van die departement, ouers, die gemeenskap en die nasionale departement van basiese onderwys.”

2023/2024:


20232024
Vrystaat89%91%
KZN86,4%89,5%
Gauteng85,4%88,4%
Noordwes81,6%87,5% (+ 5,9)
WK81,5%86,6%
Oos-Kaap81,4%84,9%
Limpopo79,5%85,1%
Mpumalanga75,8%84,9% (+ 8)
Noord-Kaap
77,0%
84,2% (+ 8,3)



Gwarube het ná dié aankondiging gesê geen-fooiskole het hul slaagsyfer van 81% in 2023 tot 85,8% in 2024 verbeter. “Dit is ook nog ’n teken dat ons skoolstelsel besig is om volwasse te word.

“Ons onderwysdistrikte het ons ook baie trots gemaak met alle distrikte wat hul prestasie vanaf 2023 verbeter het. Johannesburg-Wes is die toppresterende onderwysdistrik met ’n slaagsyfer van 97%, gevolg deur die Fezile Dabi-onderwysdistrik in die Vrystaat met 93,5% in die tweede posisie, en die Umkhanyakude-onderwysdistrik in KwaZulu-Natal in die derde posisie met 92,8%.


“Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenproses is ’n ongelooflike logistieke onderneming van byna 7 000 eksamensentrums, meer as 160 vraestelle, 9,7 miljoen antwoordstelle, meer as 72 000 opsieners, meer as 52 000 nasieners en meer as 180 nasiensentrums. Dit is sekerlik een van die grootste logistieke ondernemings vir ons land naas die algemene en munisipale verkiesing.

“Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om my opregte en hartlike dank uit te spreek aan elke departementele amptenaar, opvoeder, opsiener en nasiener wat ontelbare ure bygedra het om die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenproses ’n sukses te maak en wat onvermoeid gewerk het om die integriteit van hierdie belangrike proses te beskerm,” het Gwarube gesê.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.