Central SA
Steekhaarterriër van Potchefstroom val vas agter meerkatte aan─── MORNÉ VAN ROOYEN 14:40 Fri, 10 Jan 2025
’n Steekhaarterriër van Potchefstroom se mense is in die wolke nadat sy ongedeerd gevind is.
Joanita Walstrand, wat aan die R54 op pad Vereeniging toe woon, sê hulle het saam met vriende by die rivier kampeer toe Dusty wegraak. Werkers het haar nog Woensdagmiddag (8/1) vieruur gesien, maar toe haar ouers twee uur later kom om haar toe te maak vir die nag, was sy nêrens te vinde nie.
Dusty, die Walstrands se geliefde steekhaarterriër. Foto verskaf
Vrydag het die vreugdevure hoog gebrand toe Dusty, wat vier weke gelede kleintjies gekry het, in ’n meerkatgat gevind is. “Sy is agter ’n meerkat aan en toe kon sy nie omdraai nie en die ander kant van die gat het ’n groot klip op gehad,” sê haar nooi.
Werkers wat haar hoor blaf het, het haar uit die gat probeer uithaal, maar toe Walstand-hulle daar kom, het hulle gesê die klip is te swaar om te verwyder. “Toe het ons die klip gaan help aftrek met ’n voertuig.”
Dusty het ’n maand gelede ma geword. Foto verskaf
Dusty se mense het haar Vrydagmiddag veearts toe geneem sodat hulle kan kyk of alles in die haak is. Intussen het hulle reeds ’n GPS-opspoorder vir hul geliefde steekhaarterriër bestel.
So maak mens wanneer ’n dier vermis word:
- Laat weet onmiddellik die DBV en veeartse, en gee jou hond daar as vermis aan.
- Druk pamflette met foto’s en nadere besonderhede van jou hond, asook kontakbesonderhede en die datum waarop hy vermis geraak het en versprei dit in jou omgewing.
- Sosiale media is nuttig om mense te kry om saam te help soek.
- Verlore honde met mikroskyfies word gouer opgespoor. Maak seker jou hond se mikroskyfiedetails is op datum, en as jou diere nog nie skyfies het nie, reël dadelik met jou DBV.
- Oorweeg dit om die polisie te betrek. As jy vermoed jou hond is gesteel, dien ’n klagte in.