Central SA
Drie Vrystaters steeds gesoek─── 12:35 Fri, 10 Jan 2025
Vrystaatse polisie vra die publiek se hulp om drie vermiste mense van die Vrystaat op te spoor, onder wie twee kinders.
Hlonolofatso Mokoena (10) van Bohlokong, Bethlehem, is die laaste keer gesien toe hy Donderdag (9/1) omstreeks 09:00 in die straat saam met maats gespeel het, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy het ’n vaal T-hemp, blou denim en bruin sandale gedra.
Enigeen wat die polisie in hul soektog kan help, word gevra om die ondersoekbeampte, speurkapt. Motaung, by 082 453 0794 te bel of Bohlokong se gemeenskapsdienssentrum by 082 372 2320 of 058 307 5800.
Lindiwe Skhosana. Foto verskaf
Intussen word ’n tienermeisie van Heilbron steeds vermis. Lindiwe Skhosana se ma sê sy het haar vier kinders alleen tuis gelaat toe sy haar woning omstreeks 07:30 op 30 Desember verlaat het om dorp toe te gaan, sê provinsiale polisiewoordvoerder Mahlomola Kareli.
Toe sy omstreeks 11:00 tuiskom, het die drie kinders wat nog tuis was, gesê Lindiwe het gaan bad nadat haar ma weg is en die huis verlaat sonder om iets te sê. Sy het ’n swart denim, blou baadjie en wit Puma-tekkies gedra.
Enigeen wat weet waar Lindiwe haar bevind, kan konst. Selloane Masa van Heilbron se speurafdeling by 062 095 5711 bel.
Papi Semakale. Foto verskaf
Allandridge se polisie vra ook die publiek se hulp nadat Papi Semakale (40) se ma hom Maandag (8/1) as vermis aangemeld het, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Hy is laas op Sondag 29 Desember gesien toe hy omstreeks 05:00 hul woonplek verlaat en gesê het hy gaan ’n inisiasieskool besoek. Hy is die volgende Saterdag gewaar toe hy ’n tradisionele seremonie in Nyakallong, Allanridge, bygewoon het.
Alle pogings was tot dusver vergeefs om hom by verskeie van dié skole en elders op te spoor, sê Earle. Toe hy einde Desember by die huis weg is, het hy ’n wit T-hemp, rooi kortbroek en wit Air Force-tekkies gedra. Hy is kort, het ’n ligte vel, geskeerde kop en loop mank.
Enigeen met inligting kan speursers. Tshediso Mabaso van die plaaslike speurafdeling by 082 466 8193 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
David Numa (68) het intussen veilig tuisgekom nadat hy Maandagaand die laaste keer gesien is op die N6 in die Suid-Vrystaat waar sy grys Mazda Drifter gaan staan het.
Hy was onderweg van Ngcobo in die Oos-Kaap na Kimberley in die bakkie met Noord-Kaapse nommerplate, toe dit hom sowat 15 km vanaf Reddersburg in die steek laat. Hy het sy vrou gebel om haar van sy teëspoed te vertel, maar dit was die laaste wat sy van hom gehoor het, sê Kareli.
Selfoon lui in verlate voertuig
Dinsdag het sy ook van Ngcobo na die Noord-Kaap se hoofstad gereis, toe sy die onklaar bakkie langs die pad sien staan. Alle deure was gesluit en die bakkie ongeskonde. Sy het haar man weer gebel en gehoor hoe sy selfoon binne-in die voertuig lui.
Hy het Woensdag by sy woonplek opgedaag nadat hy ’n bus gehaal het, sê Kareli. Sy naasbestaandes was paniekbevange nadat hy twee dae lank nie van hom laat hoor het nie.
OFM Nuus cg