Central SA
Potchefstroom neem dán afskeid van geliefde inwoner─── 13:53 Fri, 10 Jan 2025
Naasbestaandes en vriende groet Saterdag (11/1) ’n geliefde Potchefstromer.
Tom Fuhri was benewens nasionale uitvoerende hoof van die Raad van Tweedehandse Handelaars en Pandwinkeleienaars ook ’n pa, oupa, oupagrootjie, broer, oom en ’n vriend vir baie, onder wie sy oudkollegas in die polisie.
“Ons het geweet en tog het ons nie geweet hoeveel lewens hy aangeraak en help verander het tot en met sy heengaan nie – nie net in die ongelukkige, sukkelende gemeenskappe nie, maar as mentor, motiveerder, adviseur, verskaffer, gebedsvegter en nog baie meer,” skryf sy geliefdes op Facebook, en voeg by hulle sal hom altyd liefhê en na hom verlang.
Fuhri, wat op 16 Junie 75 geword het, is op 27 Desember in die hospitaal oorlede ná ’n noodoperasie.
Tom Fuhri. Foto verskaf
“As daar iemand was wat ’n groot impak op die gemeenskap van Potchefstroom gehad het, was dit Tom Fuhri,” berig Potchefstroom Herald. Die gemeenskap het ’n reus en legende verloor.”
Fuhri is in 1949 op Springs aan die Verre Oos-Rand gebore en het in 1979 na Potchefstroom verhuis. Hy was 35 jaar getroud met Hettie, wat hom in 2008 ontval het. Die egpaar het twee dogters, Marian en Melinda.
“Hoewel ons sy enigste biologiese kinders is, het my pa vele ander ‘aangenome’ kinders en kinders in die gemeenskap gehad. Hy het die woord aangenome gehaat omdat DNS nie vaderskap bepaal nie,” het Marian aan die gemeenskapskoerant gesê.
‘Mense moes hulself rondom hom wees’
“Sy leuse was nog altyd: ‘Enige man kan ’n pa word, maar nie enige man kan ’n vader wees nie.’ Hy het ook nooit in kleur vasgekyk nie. Hy het altyd as kinders vir ons gesê almal se bloed is dieselfde kleur.”
Haar pa wou nooit te koop geloop met al die grade wat hy in verskillende velde gehad het nie, vertel sy. “Ek en my sussie is nooit toegelaat om enige van my pa se grade teen die muur op te hang nie. Dit mag nie geraam geword het nie.
“Hy het altyd gesê niemand is benede hom nie … Hy wou niemand se vrymoedigheid wegvat deur titels nie, en mense moes hom nie aanspreek as doktor of professor nie. Hy wou net altyd hê mense moes hulself rondom hom wees.”
Gemeenskap se pappa en oupa
Fuhri se grootste prestasie was om die gemeenskap te kan dien, sy familie te beskerm en vir hulle te voorsien, vertel Marian. “Dit was vir hom die grootste eer om as pappa en oupa Tom in die gemeenskap bekend te staan.”
Hy sal onthou word as iemand wat mense raad gegee, hulle ondersteun, vir hulle gebid en self ook wanneer hy kon, geldelik gehelp het. “Hy het soveel mense gehelp om hul lewe te herbou en te verbeter.”
Op sosiale media reageer sy skare vriende en kennisse hartseer op die tyding van sy dood. “Rus in vrede, Tom. Jy sal onthou word vir alles wat jy aan deelgeneem het, en altyd raad gegee het,” skryf Johan van Heerden op Facebook.
‘Diep spore getrap in die gemeenskap’
“Hartseer nuus vir my. Hierdie man se hart vir Potch was groooooot. Innige meegevoel met sy geliefdes,” voeg Jeanne Boshoff by.
“Liewe Marian, watter legende,” sê Bea Botha. “Hy het diep spore getrap in die gemeenskap. Alle eer aan ons Hemelse Vader!”
“Dit was ? voorreg om hom te geken het,” sê Anita van Heerden, en Annemarie Botha skryf: “Oom Tom was vir my soos ’n pa, ’n vriend en ’n raadgewer. Ek gaan hom so baie mis.”
’n Roudiens vind Saterdag om 11:00 plaas in die AGS Miederpark.