Central SA
Dogtertjies se pa en held op Frankfortse plaas begrawe─── 08:17 Fri, 10 Jan 2025
Talle boodskappe stroom van oraloor in ná die tragiese dood van ’n bekende boer van Frankfort.
Riaan Heine (43), wat Maandag (61) in Leeuspruit op sy plaas verdrink het, se liggaam is Woensdag gevind, sowat 800 m vanaf die plek waar in die water verdwyn het.
Riaan en Cornè Heine. Foto: Facebook
Volgens Charlie Jacobs, oudvoorsitter van landelike beveiliging in die distrik Mafube, het Riaan daarin geslaag om eers sy jongste dogtertjie Magderi (8), wat in die moeilikheid was in die water, “uit die water te skiet” voordat die stroom hom meegesleur het. Sy vrou, Cornè, en oudste dogter, Ivoné (11), was teenwoordig.
Die gesin is die afgelope week met medelye deur vriende op sosiale media oorval. Die familie sê in ’n verklaring hulle waardeer elke boodskap en alle hulp wat sedert Maandag aangebied is.
Die Heine-gesin. Foto: Facebook
Riaan het ’n gemengde boerdery gehad en hom op melkery, vee en saaiboerdery toegespits. Hy en sy vrou was 15 jaar getroud. Hy word ook deur sy ouers, ’n suster en broer, en ander familie oorleef.
Riaan se roudiens word beplan vir Dinsdag om 12:00 in die Kainos-aanbiddingsentrum by JJ Hadebestraat 101, Frankfort. ’n Semi-privaat teraardebestelling word vooraf op die plaas Voorwaarts gehou.
‘Hulle sal jou altyd as hulle hero in hul hart hê’
Past. Michael van Blerk van Kainos sê dit gaan onder die omstandighede goed met die Heine-gesin: “Hulle versterk hulself in die Here en Hy is die anker waaraan hulle vashou.”
Op Facebook skryf Nici en Esmeralda Verster: “Ai, ou Riaan, jy het gedoen wat enige pa sal doen vir sy kinders. Rus sag, en weet jou dogtertjies sal jou altyd as hul hero in hul hart hê. Ons gebede en gedagtes is met die familie en vriende.”