On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Stilfontein-mynwerkers: Sanco kap regering oor stilstand

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:39 Mon, 09 Dec 2024

Stilfontein-mynwerkers: Sanco kap regering oor stilstand  | News Article
Sanco-woordvoerder in Noordwes, Mzukisi Jam. Foto: Skermgreep

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in Noordwes is gefrustreerd met die trae vordering in die redding van onwettige myners en die verwydering van liggame uit uitgediende mynskagte op Stilfontein.

Tot Vrydag (6/12) het 1 420 zama-zamas uit ou skagte in Noordwes te voorskyn gekom, waaronder die Margaret-skag op Stilfontein, sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder. 

Agt liggame is reeds uit die Buffelsfontein No. 11-skag opgehys, terwyl ses onwettige mynwerkers, almal Mosambiekers, Saterdag uit die Margaret-skag opgekom het.

Die stadige vordering is onaanvaarbaar, meen Mzukisi Jam, provinsiale Sanco-woordvoerder, ten spyte van besoeke deur Senzo Mchunu, polisieminister, en lt.genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris.

“Toe ons hoor die nasionale kommissaris kom, het ons gehoop hy het ’n spesifieke mandaat van die minister om ’n verskil te maak. Maar tot ons ontsteltenis, was dit bloot ’n besoek om kontak met kollegas te maak. Soos sake nou staan, het ons vasgeval, en al wat die gemeenskap kan verwag, is dat nog liggame opgehys sal word.”

Hy is ook omgekrap oor die beperkte hulpbronne wat beskikbaar is vir die verwydering van liggame. Die toue wat hoofsaaklik gebruik word om liggame op te hys, is “onvoldoende” weens die omvang van die krisis.

Jam wys op teenstrydighede in die polisie se benadering tot soortgelyke situasies in ander provinsies. “In Sabie, Mpumalanga, het die polisie aktief gehelp om mense uit te haal.


“Hier op Stilfontein is hul houding vyandig, en dis kommerwekkend dat mense volgens berigte mishandel word. Wat presies is die polisie in Noordwes se mandaat?” wil hy weet.

Die regering se besluit om luidens berigte R1 miljoen aan ’n kamera vir skaginspeksies te bestee, kom ook onder skoot. Jam meen dié geld kon liewer gebruik geword het vir bykomende toue, wat doeltreffender as die owerheid se huidige ingryping sou gewees het.

Hulp gevra

Sanco eis die bedanking van Oageng Molapisi, Noordwes se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, uit die taakspan wat toesig hou oor die operasies op Stilfontein. Jam beweer Molapisi “maak grappies” en neem die operasie nie ernstig op nie terwyl mense sterf. 

Hy vra mense of organisasies wat kan help met die redding van die oorblywende onwettige mynwerkers, moet na vore kom.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.