On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse vrou gesoek na gruvonds in tas

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:33 Wed, 23 Oct 2024

Bloemfonteinse vrou gesoek na gruvonds in tas | News Article
Foto: iStock

Die Bloemfontein-polisie soek na ’n vrou wat na bewering haar baba se oorskot in ’n tas gebêre het.

Hulle ondersoek ’n saak van verberging van geboorte nadat die oorskot van ’n baba in ’n koffer gekry is, sê kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die oorskot is Maandag (21/10) omstreeks 10:00 in ’n huis in die Freedom Square-woonbuurt, waar die vrou (44) gewoon het, gevind.”

Blykbaar het die vrou twee weke gelede die huis verlaat en nie teruggekeer nie. Haar lewensmaat het die polisie ontbied nadat hy die gruvonds ontdek het terwyl hy huis skoongemaak het.

‘Sy het glo gesê ‘dis niks’’

“Daar is bewerings dat die vrou ’n paar jaar gelede swanger was, maar nooit die lewe geskenk het nie.”

Die polisie maak in hul mediaverklaring oor die voorval nie melding van bewerings dat die baba se pa agtergekom het sy lewensmaat is skielik nie meer swanger nie. Toe hy haar daaroor uitvra, het sy glo gesê “dis niks”.

Die ondersoek duur voort.

Maak so as jy nie kans sien om jou pasgeborene groot te maak nie:

Om ’n kind te laat aanneem is ’n belangrike besluit wat deeglike oorweging verg om die kind se beste belange te verseker, berig Law for All. Kinderbeskermingsorganisasies en die departement van maatskaplike ontwikkeling bied leiding deur hierdie proses.

Kragtens die Kinderwet moet ouers wat wil laat aanneem, deur ’n maatskaplike werker beraad word voor hulle tot aanneming toestem. Die wettige oordrag van ouerlike regte moet duidelik aan al die betrokkenes verduidelik word, onder wie ouers en voogde.

Albei biologiese ouers moet toestem tot aanneming. Kinders bo tien jaar moet self ook instem.

Toestemming kan gegee word deur:

  • Voltooiing van Vorm 61 vir ouers of voogde;
  • Voltooiing van Vorm 62 vir kinders bo tien jaar;
  • Ondertekening van die toestemming in die teenwoordigheid van ’n voorsittende beampte van die kinderhof.

Toestemming word nie vereis nie as:

  • die kind ’n weeskind is met geen gewillige voog nie;
  • die ouer geestelik onbevoeg is;
  • die ouer die kind verlaat het of hul verblyf onbekend is;
  • daar bewyse is van mishandeling of verwaarlosing deur die ouer;
  • die ouer die afgelope 12 maande nie hul verantwoordelikhede nagekom het nie;
  • die hof die ouer se toestemmingsregte verwyder het; of
  • die ouer versuim om binne 30 dae op ’n kennisgewing van voorgestelde aanneming te reageer.

Biologiese ouers kan hul toestemming binne 60 dae terugtrek deur Vorm 64 te onderteken.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.