On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sersant van Namakwaland lewenslank tronk toe vir verkragting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:31 Wed, 23 Oct 2024

Sersant van Namakwaland lewenslank tronk toe vir verkragting | News Article
Calvin Brown. Foto: Facebook

’n Gewese polisiesersant van Namakwaland is lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van twee tieners.

Calvin Brown, wat deel was van die polisie se afdeling maatskaplike misdaad en met kinders met gedragsprobleme gewerk het, is skuldig bevind aan dié “gruwelike dade”, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.

Die eerste voorval het in Oktober 2021 in die polisie se klubhuis plaasgevind. “’n Meisie (17), wat na haar pa gesoek het, het gevra Brown moet help en het hom as ’n polisiebeampte vertrou. Met hul aankoms by die klubhuis het Brown haar in die badkamer verkrag.”

‘Probeer meisie (13) omkoop met geskenke’

Sowat 20 maande later, op 3 Junie verlede jaar, het Brown ’n 13-jarige in sy huis verkrag, sê Senokoatsane. Sy het Brown ná ’n skoolatletiekbyeenkoms vir water gevra. Omdat hy bekend is aan plaaslike kinders vanweë sy rol, het sy hom na sy huis vergesel. Hy het haar in sy kamer ingedwing en haar verkrag.”

Brown is ná die voorval in hegtenis geneem en aangekla van twee aanklagte van verkragting en dwarsboming van die gereg omdat hy probeer het om die meisie (13) om te koop met geskenke om haar verklaring te verander.


“Die staat het aangevoer dat hy sy posisie misbruik het en sy eed geskend het om die kwesbares te beskerm. Die staatsaanklaer, Darryl Bromkamp, het beklemtoon dat Brown geen berou getoon het vir sy dade nie en uit die samelewing verwyder moet word.”

Die hof het geen wesenlike en dwingende omstandighede gevind wat van die voorgeskrewe minimum vonnis vir sulke misdade kan afwyk nie,” sê Senokoatsane.

‘Sy naam in nasionale register van seksoortreders ingesluit’

“Brown is lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van die 13-jarige en tien jaar direkte tronkstraf vir die verkragting van die 17-jarige. Die beskuldigde is tot nog vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir regsverydeling.


“Die hof het die beskuldigde onskuldig bevind op die aanklag van aanranding. Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word.”

Brown is ook ongeskik verklaar is om met kinders te werk en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. “Sy naam moet in die nasionale register van seksoortreders ingesluit word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.