On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskap bring Noordwes-vrou om die lewe weens vermiste meisie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:30 Wed, 23 Oct 2024

Gemeenskap bring Noordwes-vrou om die lewe weens vermiste meisie | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Bejaarde vrou van Noordwes is vermoor nadat die gemeenskap eie reg gebruik het.

Die slagoffer is daarvan beskuldig dat sy geweet het waar ’n meisie van Taung is en dat sy vermoor is, nadat die elfjarige op 13 Oktober in die Magogong-nedersetting weggeraak het.

Die meisie se verkoolde liggaam is ontdek nadat die bejaarde se huis aan die brand gesteek is, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder. Na bewering het die gemeenskap toe ook ’n snoepwinkel geplunder.

‘Vertrou dat die polisie geen steen onaangeroer sal laat nie’

Wessels Morweng, Noordwes-LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, vra die gemeenskap moet kalm bly en die polisie kans gee om hul werk te doen sodat beamptes diegene kan aankeer was skuldig is aan dié “verregaande” optrede.

“Ek doen ’n beroep op die mense van Magogong om nie eie reg te gebruik nie, maar te vertrou dat die polisie geen steen onaangeroer sal laat om agter die kap van die byl te kom nie.”

Hy vra mense met inligting moet na vore kom om die polisie te help om die oortreders voor die gereg te bring.

Foto: Facebook

Morweng het die nedersetting Dinsdag (22/10) besoek en sê die polisieteenwoordigheid in die gebied is intussen verskerp.

Die polisie ondersoek nog die sake van moord en diefstal, terwyl ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die name van die oorledenes is nog nie bekendgemaak nie.

Ontvoering van meisies

Luidens ’n verslag deur Statistieke Suid-Afrika vir die tydperk van 2015 tot 2020 is die situasie wat die ontvoering van meisies betref kommerwekkend. Syfers van 2019 tot 2020 dui daarop dat meisies van 17 jaar en jonger die grootste groep slagoffers van verskeie misdade soos mishandeling, verkragting, seksuele aanranding en roof is.

In die Vrystaat is 84 gevalle van ontvoering van meisies onder 17 tussen 2015 en 2020 aangemeld, waarvan die meeste gevalle tussen 2018 en 2019 was. In die Noord-Kaap is altesaam 19 gevalle aangemeld.

In Noordwes is ’n kommerwekkende 78 gevalle in 2017 aangemeld en 38 in 2018. Intussen het Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap die meeste gevalle oor dié vyfjaartydperk aangemeld, wat daarop dui hoe wydverspreid hierdie misdade landwyd voorkom.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.