On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Geen polisievoertuig beskikbaar nadat jong pa in Noordwes sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:41 Wed, 23 Oct 2024

Geen polisievoertuig beskikbaar nadat jong pa in Noordwes sterf | News Article
Hendrik Roodt en sy vrou, Lize-May. Foto: Facebook

Geen polisievoertuig was die naweek beskikbaar nadat ’n jong pa van Noordwes in ’n ongeluk gesterf het nie.

Hendrik Roodt (32), ’n bekende in veldmotorfietskringe en ’n inwoner van Lichtenburg, is Saterdag (19/10) oorlede nadat sy bakkie glo ’n gat op die skouer van die pad getref en hy beheer oor die voertuig verloor het, vertel sy skoonpa, Theuns van Rensburg.

Roodt en sy vrou, Lize-May, wat net meer as ’n jaar getroud was, was terug op pad huis toe van ’n geleentheid op Ottosdal toe die ongeluk omstreeks 03:45 gebeur het, ongeveer 10 km buite Lichtenburg.

Die bakkie ná die ongeluk. Foto verskaf

Volgens Van Rensburg het die polisie eers sowat twee uur ná die voorval opgedaag omdat die polisiekantoor op Lichtenburg gesê het hulle het net een voertuig beskikbaar, wat reeds na ’n ander toneel was.

Die egpaar se enigste kind, Lia-May, was tydens die ongeluk by Van Rensburg en sy vrou, Yolande.

Die gat op die skouer wat die bakkie se wiel moontlik getref het. Foto verskaf

Van Rensburg sê hy vermoed toe die Mitsubishi Triton-bakkie, waarmee die egpaar gery het, die gat op die skouer van die pad tref, het die stuurmeganisme gebreek, wat daartoe gelei het dat Roodt beheer verloor het. Die paartjie is albei uit die voertuig geslinger.

“Daar is ’n groot hap by die gedeelte van die pad waar hy beheer verloor het. Die res van die pad is in ’n goeie toestand.”

Die gat langs die pad. Foto verskaf

Lize-May het Sondag (20/10) ’n vyf uur lange operasie ondergaan in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp nadat sy veelvuldige beserings opgedoen het, waaronder gebreekte bene in haar regterknie, -enkel en -voet, asook geskeurde ligamente in haar linkervoet.

“My dogter het ’n lang ent teruggekruip na die bakkie en my gebel. Sy het gesê dat sy nie vir Hendrik kon kry nie.

“Ek het my seun TG, wat op Lichtenburg woon, gebel en hom gevra om dadelik na die toneel te gaan. TheunsRensburg het ook saam met ’n neef na die toneel gejaag,” het Yolande gesê.

Hendrik Roodt en sy vrou, Lize-May. Foto: Facebook

Met sy aankoms het hy gesien Roodt het reeds aan sy beserings beswyk.

Van Rensburg sê Lize-May se toestand verbeter, maar sy moet nog plastiese chirurgie aan verskeie dele van haar liggaam kry wat veloorplantings nodig het.

Roodt was ’n werktuigkundige by sy skoonpa se maatskappy, LTX Landini, op Lichtenburg.

Die begrafnis word na verwagting Donderdag 31 Oktober op Lichtenburg gehou.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

OFM Nuus/Charne van der Merwe



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.