On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bultfontein: Nog dalk aangekeer ná patrollielede ‘plaasbetreders’ betrap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Tue, 22 Oct 2024

Bultfontein: Nog dalk aangekeer ná patrollielede ‘plaasbetreders’ betrap | News Article
André van Rensburg. Foto verskaf

Die polisie word weer versoek om meer te doen om Vrystaatse boere te beskerm sodat dit nie vir hulle nodig sal wees om reg in eie hande te neem nie.

André van Rensburg (54), ’n veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, is Maandag (21/10) in die Bultfontein-landdroshof borgtog van R2 000 toegestaan nadat hy glo self twee voornemende plaasaanvallers aangekeer het.

Van Rensburg, wat vir Agrisec werk en in die uitvoerende raad van Vrystaat Landbou dien, het die twee onbekende mans na bewering Vrydag (18/10) omstreeks 02:00 tydens ’n patrollie op ’n plaas betrap. Boere betaal dié maatskappy wat spesialiseer in plaasveiligheid en plattelandse misdaad om hul veiligheid te verseker deur gereelde patrollies.

‘Bewerings dat die polisiekantoor toe was, sal intern ondersoek word.’

’n Groep mans, onder wie Van Rensburg, het die twee verdagtes in die vroeë oggendure na die polisiekantoor op Bultfontein gebring, sê kapt. Stephen Thakeng, Vrysaatse polisiewoordvoerder. “Bewerings dat die polisiekantoor toe was, sal intern ondersoek word.”

Die polisiebeamptes wat op daardie stadium aan diens was, het ’n klag van crimen injuria teen die groep mans aanhangig gemaak, sê Thakeng. Nog mans sal na verwagting binnekort in hegtenis geneem word.

Die twee mans (28 en 33) wat op die plaas betrap is, het glo verskeie sigbare beserings gehad het, voeg hy by. “Hulle hande is met kabelbinders geboei.”


’n Klag van betreding is teen die twee mans aanhangig gemaak. Hulle is op waarskuwing vrygelaat en sal na verwagting op 11 Desember in die landdroshof verskyn.

Van Rensburg, wat ook aangekla word van poging tot moord, moet weer op 6 November in die hof voorkom.

‘Boere is in werklikheid op hulself aangewese om hulle veiligheid te verseker’

Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid, sê intussen die polisie is veronderstel om met boere saam te werk en nie téén hulle nie. “Daar is te veel polisiebeamptes in die Vrystaat wat nie veiligheid in veral ons landelike gebiede verseker nie.

“Boere is, weens die polisie se onvermoë om veiligheid op die platteland te verseker, (in werklikheid) op hulself aangewese om hulle eiendom en veiligheid te verseker. Dan loop hulle gevaar om self aangekla te word omdat die polisie in sy taak misluk.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.