On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse soldaat, medepligtige gevonnis vir gewapende roof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:41 Mon, 21 Oct 2024

Noord-Kaapse soldaat, medepligtige gevonnis vir gewapende roof | News Article
Foto iStock

’n Noord-Kaapse soldaat en sy medepligtige is swaar gestraf vir ’n gewapende roof.

Siphelo Mzamane (28), ’n wapenoperateur in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en sy medebeskuldigde, Nkosikhona Apols (36), is Vrydag (17/10) in die Springbokse streekhof op Garies gevonnis, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Mzamane, wat 20 jaar tronkstraf opgelê is, is skuldig bevind op verskeie aanklagte, insluitend twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ammunisie en ’n semi-outomatiese vuurwapen.

Apols is 15 jaar tronkstraf opgelê vir sy aandeel in die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, maar die ander Apols-broer, Nkosinathi, die eerste beskuldigde, is op alle aanklagte vrygespreek.

‘Wildschut is met geweld uit die voertuig verwyder’

Mzamane se vonnis sluit ’n bykomende vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie en 15 jaar vir die onwettige besit van ’n semi-outomatiese vuurwapen in. “Sy vonnisse vir roof en die ammunisie sal samelopend uitgedien word, terwyl tien jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen ook samelopend uitgedien sal word. Dit sal ’n effektiewe vonnis van altesaam 20 jaar tronkstraf tot gevolg hê.”

Mzamane en die Apols-broers het op 17 Maart 2019 twee rylopers, Justin Wildschut en Jandrè Cupido, opgelaai terwyl hulle op die N7 in Namakwaland op pad was van Kaapstad na Upington. “Die beskuldigde het die rylopers ’n saamrygeleentheid na Springbok aangebied. Die beskuldigde het die rylopers tydens die rit drank aangebied,” sê Senokoatsane.

“Mzamane het Cupido toe met ’n vuurwapen gedreig en hom van sy klere en gereedskap beroof. Wildschut is met geweld uit die voertuig verwyder, waartydens sy foon en meer as R1 000 kontant gesteel is, terwyl Cupido ook van sy persoonlike besittings gestroop is.”

‘Verdagtes toe deur wetstoepassers agternagesit’

Volgens Senokoatsane is die slagoffers ná die rooftog langs die pad afgelaai. “Hulle het daarin geslaag om ’n verbygaande polisievoertuig voor te keer. Die verdagtes is toe deur die wetstoepassers agternagesit. Tydens die dramatiese jaagtog het die polisie probeer om hul voertuig se bande te skiet.”

Die vuurwapen wat in die misdaad gebruik is, is later ontdek waar dit versteek was onder klippe langs die N14, met die reeksnommer verwyder.

Senokoatsane sê die hof het beslis die beskuldigdes kon nie voldoende redes verskaf om af te wyk van die minimum vonnisse vir die roof en onwettige vuurwapenbesit nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.