On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark-peuter met hidrosefalie groei en ontwikkel normaalweg

───   HEIDRÈ MALGAS 12:53 Mon, 21 Oct 2024

Vanderbijlpark-peuter met hidrosefalie groei en ontwikkel normaalweg | News Article
Nolan Marais (2). Foto verskaf

Byna ’n jaar nadat ’n driejarige peuter van Vanderbijlpark ’n breinoperasie vir ernstige hidrokefalie ondergaan het, ontluik hy in ’n nuuskierige, slim en bedrywige knapie.

Nolan Marais (2) se ma, Jessica, vertel hy is ook gebore met ’n gesplete lip, wat die dokter reeds kon sien toe sy 20 weke swanger was. Daar is ook vermoed dat hy breinprobleme sou kon gehad het.

Nolan is gesond gebore op 13 Januarie 2022, op sy ma se verjaardag. Alles was skynbaar in die haak.

’n Maand en ’n half daarna het Nolan geweier om te eet en gesukkel om te slaap. Sy ouers het hom na ’n dokter geneem, waar hy toe gediagnoseer is.


Hidrosefalie is harsingwatersug of abnormale vermeerdering van die serebrospinale vloeistof, hetsy in die harsingventrikels of in die ruimtes onder die spinnerakvlies, en word daarvolgens onderskei in inwendige en uitwendige hidrosefalie.

Nolan se laaste opvolgafspraak ná sy groot operasie was in Februarie toe die dokters vir sy ouers gesê het geen verdere opvolgafsprake is meer nodig is nie, tensy hulle iets opmerk wat hulle pla. Sy ma beskryf dit as “die beste nuus ooit”, aangesien dit beteken sy brein is gesond en hy ontwikkel soos hy behoort.

Nolan is baie lief vir groente. Foto verskaf

“Nolan hou baie van groente, wat verbasend is, want baie peuters verkies dit nie. Hy is ook heeltemal lief vir diere en kan hulle maklik uitken. Sy gunstelingplek is Magic Lawns in Vereeniging, waar hy die diere kan voer.

“Nolan ken al sy vokale, kan reeds tot 30 tel, klanke maak, die alfabet opsê, en onderskei tussen plaasdiere en wilde diere.”

Sy drie diagnoses is Dandy-Walker-misvorming (groot siste tussen die groot brein en breinstam), hidrosefalie (oortollige vloeistof op die brein, wat nou onder beheer is ná sy operasie), en serebrale hipoplasie (kleiner brein as normaal en stadiger breingroei).


Volgens die Nasionale Biblioteek van Geneeskunde kan hidrosefalie lei tot neurologiese disfunksies wat die lewensgehalte beïnvloed. Nolan het egter al die uitdagings oorkom wat met sy diagnoses gepaardgaan.

Nolan het selfs ’n paar woorde in Spaans aangeleer en kan kleure in dié taal opnoem. Hy het nege weke ná sy operasie sy eerste tree gegee.

“Nolan is ’n groot wonderwerkseuntjie,” vertel sy ma, “en selfs die neurochirurg het gesê sy intellek is soos dié van ’n vier- tot vyfjarige, wat verbasend is, aangesien hy nog nie eens drie jaar oud is nie.


“Hy is ook gebore met ’n gesplete lip, maar selfs met die spraakspiere wat nie aangeheg is nie, praat hy baie mooi sonder enige terapie.”

Hy word DV op 13 Januarie drie jaar oud.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.