On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde vrou sterf ná ongeluk met polisievoertuig in Bloemfontein

───   HEIDRÈ MALGAS 15:32 Fri, 18 Oct 2024

Bejaarde vrou sterf ná ongeluk met polisievoertuig in Bloemfontein | News Article
Die ongelukstoneel in Bloemfontein. Foto Heidré Malgas

Die Bloemfonteinse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n vrou in ’n ongeluk naby die Urth-leefstylsentrum dood is.

’n Polisievoertuig was Donderdag (17/10) omstreeks 13:00 op die R700 vanuit die N1 se rigting na die Northridge-winkelsentrum op pad toe ’n ander bestuurder na bewering voor die polisievoertuig ingeswaai het.

“Ongelukkig is die passasier in hierdie voertuig op die toneel dood verklaar,” sê Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die bestuurder (83) en nog twee mense is in die hospitaal opgeneem.

’n Afdraai soos dié by Urth word dikwels ’n blinde kol genoem omdat dit moeilik is om aankomende voertuie se spoed te skat, sê Johan Jonck van Arrive Alive. “Daarom is dit belangrik om altyd in alle rigtings te kyk en jou spoed aan te pas, ongeag wat die spoedgrens van die pad is.

“Kruisings is een van die mees komplekse verkeersituasies waarmee motoriste, voetgangers, fietsryers en ander padgebruikers daagliks te doen kry. Kruisingbotsings is een van die mees algemene botsings – en ook die met ernstige gevolge.”  


Waarom gebeur daar so baie kruisingbotsings?

  • Navorsing wys twee van die hoofredes vir kruisingbotsings is bestuurders se nalatigheid en roekeloosheid.
  • Die ignoreer van stoptekens en rooi verkeersligte is die grootste oorsake van botsings in stadsverkeer.
  • Onoplettendheid en onvoldoende sigafstand van aankomende verkeer tydens links- of regsdraai.
  • Gebrekkige sigbaarheid van die kruising (padgebruikers is nie bewus van die kruising nie).
  • Onoplettendheid van bestuurders sluit in die versuim om verkeer by ’n kruising dop te hou terwyl hulle aandag afgelei word deur onder meer selfone en die motorradio.
  • Onvoldoende volgafstande en om oor ’n oranje verkeerslig te jaag.
  • Om op ’n kruising af te jaag.
  • Botsings aan die kant van lang voertuie wat nie vir aankomende bestuurders sigbaar is nie.
  • Botsings met voetgangers en ander voertuie wat nie vir aankomende vragmotors sigbaar is nie of die versuim om verkeerskontroles na te kom.


Volgens Arrive Alive spits padveiligheidsinstellings en nieregeringsorganisasies hulle dikwels baie toe op padveiligheid en die jonger generasie, maar laat ouer padgebruikers agterweë.

Die getal ouer padgebruikers neem gedurig toe, en padveiligheidstrategieë moet meer aandag gee aan die moontlikhede en beperkings van hierdie groep padgebruikers.

Die verkeersterftesyfer onder dié groep neem ook toe. Wanneer hulle in botsings betrokke is, is die risiko vir ernstige beserings aansienlik hoër weens hul fisieke kwesbaarheid.

OFM Nuus het intussen ook berig oor ’n bakkie wat Donderdag (17/10) naby die Nelson Mandela-afrit op die N1 in Bloemfontein aan die brand geslaan het Geen beserings is aangemeld nie.

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.