On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse veearts skuldig aan seksuele aanranding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:03 Fri, 18 Oct 2024

Noord-Kaapse veearts skuldig aan seksuele aanranding | News Article
Dr. Boeta van der Merwe. Foto: Facebook

’n Veearts van Postmasburg in die Noord-Kaap is daaraan skuldig bevind dat hy ’n tienerseun drie jaar lank seksueel aangerand het.

Dr. Boeta van der Merwe (65), eienaar van die Postmasburg-dierekliniek, is Maandag (14/10) in die plaaslike streekhof skuldig bevind en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar, sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolginsgesag. 

Volgens Senokoatsane het Van der Merwe ’n tienerseun vanaf die ouderdom van 14 aangerand. Die slagoffer is nou 18 jaar oud.

Betaal R100 000 onmiddellik, R50 000 binne ses maande

Die hof het Van der Merwe ook beveel om onmiddellik R100 000 aan die slagoffer se familie te betaal en nog R50 000 binne ses maande.

“Die seun se ouers het R100 000 geëis vir sy maandelikse mediese uitgawes weens trauma. Hulle het direkte tronkstraf geëis,” sê Senokoatsane.

“Die slagoffer se ma, die enigste getuie, het haar getuienis met mediese verslae ondersteun. Sy het onthul dat haar seun aan erge trauma, depressie, liggaamsbeeldkwessies en af en toe selfmoordgedagtes ly. Sy akademiese prestasie het ook afgeneem weens die emosionele tol van die mishandeling.”

Die vervolging het die noodsaaklikheid beklemtoon om die seun se welsyn voorop te stel, sê Senokoatsane, en klem gelê op die ernstige sielkundige uitwerking van die misdade op hom.

Veearts erken hy het ’n "persoonlike probleem, kry berading'

“Van der Merwe het tydens sy getuienis erken hy het ’n persoonlike probleem en kry glo berading. Hy het berou uitgespreek en gesê hy is bereid om die slagoffer se familie te vergoed.

“Hy het hom daartoe verbind om by te dra tot die slagoffer se mediese uitgawes, wat maandeliks sowat R4 000 beloop.”

Senokoatsane sê Van der Merwe wou tydens die verhoor kontak maak met die slagoffer, maar moes aan streng borgtogvoorwaardes voldoen.

Wou tydens verhoor met slagoffer kontak maak

Ter versagting het die verdediging daarop gewys Van der Merwe sedert 1983 as veearts praktiseer, is selfstandig, getroud en het drie volwasse kinders. Hy het geen vorige veroordelings nie.

Tydens vonnisoplegging het die hof erken die saak is “kompleks”, sê Senokoatsane. “Die landdros het beklemtoon die hof moet die erns van die misdaad, die gemeenskap se belange en die persoonlike omstandighede van die beskuldigde oorweeg.

“Die hof het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat geregtigheid geskied en by te dra tot die slagoffer en sy gesin se herstelpad. Misdrywe teen kinders moet as ’n prioriteit bestry word; daarom moet die howe dit ernstig opneem,” sê Senokoatsane.
OFM Nuus cvdw

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.