On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe aanklagte teen ma, verdagtes wat kleuter (2) aanrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:10 Tue, 08 Oct 2024

Nuwe aanklagte teen ma, verdagtes wat kleuter (2) aanrand | News Article
Foto: iStock

“Die kleuter is op 22 September omstreeks 08:40 na die Pelenomi-hospitaal gebring. Hy was erg in die gesig geslaan en het veelvuldige beserings gehad.”

’n Bloemfonteinse ma, haar kêrel en nog twee mense, wat almal glo haar kleuter aangerand en verwaarloos het, het na bewering dieselfde met die tweejarige se drie sibbes gedoen.

Die vier verdagtes sal na verwagting Maandag (15/10) in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord op die kleuter. Nadat nuwe aanklagte bygevoeg is, staan hulle nou ook tereg op aanklagte wat verband hou met die aanranding en verwaarlosing van sy susters (9 en 6) en broer (4), sê Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Die vier verdagtes, onder wie twee mense wat by die ma en haar kêrel in die voorstad Noordhoek inwoon, het Donderdag (3/10) vir die eerste keer in die landdroshof verskyn op aanklagte dat hulle die tweejarige ernstig aangerand het. Dié aanklag is later verander na poging tot moord. Tydens hul hofverskyning Dinsdag is die nuwe aanklagte bygevoeg.

“In die hof is nuwe aanklagte van poging tot moord op die negejarige gebring, saam met aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer van al vier kinders,” sê Earle. “Voorts is aanklagte van versuim om kindermishandeling aan te meld, ook in die akte van beskuldiging ingesluit vir al die beskuldigdes.”

Earle het vroeër aan OFM Nuus gesê dat die kleuter omstreeks 08:40 op 22 September na die Pelonomi-hospitaal gebring is. Hy het beserings opgedoen, insluitend vuishoue in die gesig.

Die polisie is toe in kennis gestel, waarna die ma (34), haar kêrel (35) en die egpaar Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40) wat by hulle inwoon, in hegtenis geneem is. Die identiteit van die ma en haar kêrel word weerhou. Volgens Earle word al vier kinders op ’n veilige plek versorg.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.