On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Ficksburg-ma gesoek nadat sy baba met melk by taxistaanplek los

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:12 Tue, 08 Oct 2024

Ficksburg-ma gesoek nadat sy baba met melk by taxistaanplek los | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

“So iemand kan aangekla word van kinderverlating, ’n kriminele oortreding, en tronkstraf opgelê word.”

Die polisie beplan om ’n Vrystaatse ma aan te kla van poging tot moord nadat sy haar baba naby die langafstand-taxistaanplek op Ficksburg gelos het.

Beamptes soek nog na die ma van die twee maande oue baba wat Maandag (1/10) daar gevind is, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Inwoners was Maandag omstreeks 14:30 te voet op pad na die grenspos toe hulle ’n baba naby die taxistaanplek hoor huil.

“Hulle het die babadogtertjie, met ’n blik babapoeiermelk, ’n bottel melk en ’n rok op die grond gevind.”

Baba in hospitaal opgeneem

Die polisie en ’n ambulans is na die toneel ontbied, waarna die baba in die hospitaal opgeneem is vir mediese behandeling.

Enigiemand met inligting oor die ma of die baba se ander naasbestaandes kan speursers. Thabiso Kobeli van Ficksburg se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe bel by 084 318 9417, Stop Misdaad by 08600 10111 of die MySaps-app gebruik.


Kinderverlating is wanneer ’n ouer, voog of iemand in beheer van ’n kind óf ’n kind in die steek laat, óf versuim om die nodige sorg vir die kind se welstand te verskaf, berig Better Care Network.

So ’n persoon kan aangekla word van kindverlating, ’n kriminele oortreding, en tronkstraf opgelê word, luidens FinLaw. Hierdie oortreding stel ’n oortreder bloot aan tronkstraf van 10 tot 25 jaar.

‘Kan daartoe lei dat baba in pleegsorg geplaas word’

Nadat ’n ouer ’n kind verlaat het, kan die owerheid, soos maatskaplike dienste, ingryp en toesig oor die kind neem, wat daartoe kan lei dat die baba in pleegsorg of selfs vir aanneming geplaas word.

Dit kan ook lei tot die verlies van jou ouerlike regte, wat dit onmoontlik maak om weer wettiglik toesig oor die kind te bekom.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.