On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Dogter geskok oor ‘ligte vonnis’ ná pa se motorongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:57 Thu, 03 Oct 2024

Dogter geskok oor ‘ligte vonnis’ ná pa se motorongeluk | News Article
Jacky en haar pa, Patrick. Foto: Facebook

“Tydens die hofverrigtinge het landdros Elna Moolman die erns van die misdaad erken, maar ook in ag geneem dat Masenya 16 jaar oud was ten tyde van die voorval.”

Die dogter van ’n man van Brits wat in ’n ongeluk dood is, is teleurgesteld met die vonnis wat die man opgelê is wat die ongeluk veroorsaak het.

Kgaugelo Masenya (19) is op Woensdag (2/10) in die Brits-landdroshof tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis, wat hy onder huisarres sal uitdien, sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privatevervolgingseenheid.

‘Hy moet elke maand 16 uur gemeenskapsdiens doen’

Benewens huisarres, moet Masenya elke maand 16 uur gemeenskapsdiens by die Polokwane Provinsiale Hospitaal voltooi.

Patrick Jewell (65) was op 21 September 2021 in ’n motorongeluk betrokke wat veroorsaak is deur Masenya se roekelose bestuur. Jewell het drie weke later aan sy beserings beswyk.

Volgens Bateman het Masenya in Mei vanjaar skuld beken op aanklagte van strafbare manslag en nalatige en roekelose bestuur.


“Jacky voel dat die strafregstelsel hulle in die steek gelaat het. Sy is geskok en teleurgesteld oor die milde vonnis wat aan die tiener gegee is wat haar pa se dood veroorsaak het,” sê Bateman.

Die saak het aansienlik gevorder weens die betrokkenheid van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, wat Jewell se dogter, Jacky, bygestaan het.

‘Die saak aanvanklik dalk nie behoorlik ondersoek’

Volgens Bateman het die eenheid ’n sleutelrol gespeel om te verseker dat die saak deeglik ondersoek en voor die gereg gebring word. “Die tienerseun se pa is ’n kaptein in die SAPD-beskermingseenheid. Daar is ’n vermoede dat die saak aanvanklik nie behoorlik ondersoek is nie, weens polisie-inmenging, wat daarop gemik is om een van hul eie te beskerm.”

Tydens die hofverrigtinge het landdros Elna Moolman die erns van die misdaad erken, maar ook in ag geneem dat Masenya 16 jaar oud was ten tyde van die voorval. Moolman het beklemtoon dat hoewel ’n man sy lewe verloor het as gevolg van Masenya se optrede, sy ook gehoop het dat die vonnis ’n mate van troos vir Jewell se familie sou bring.

Barry Bateman. Foto: X

Jacky meen egter die vonnis van drie jaar stem nie ooreen met die erns van die oortreding nie. “Ná drie jaar is sy vonnis verby. Ek voel nie dit is genoeg nie, maar volgens die regstelsel is dit wat hy verdien. 

“Ek wil AfriForum bedank dat hulle deur die hele proses met my was. Ondanks die gevoel dat die regstelsel my pa in die steek gelaat het, weet ek die saak sou verlore wees sonder AfriForum se ingryping.”

‘Vertragings in geregtelike proses verleng slagoffers se lyding’

As deel van die vonnisopleggingsproses het AfriForum se private vervolgingseenheid ’n saakvoorbereidingsbeampte, Karen Tewson, ingeroep om ’n slagoffer-impakverslag op te stel. Jacky het haar dankbaarheid uitgespreek en gesê: “Karen het my so baie gehelp. Sy het na my geluister, en die slagoffer-impakverslag laat mense soos ons toe om die geweldige impak wat sulke tragedies op ons lewens het, te verduidelik.”

Bateman het bygevoeg dat vertragings in die geregtelike proses net die lyding van slagoffers en hul gesinne verleng. 

“Terwyl ons verlig is dat Jacky hierdie hoofstuk uiteindelik kan afsluit, het die drie jaar wat dit geneem het om hierdie saak af te handel, bykomende hartseer vir haar familie veroorsaak. Die vertragings het ook die beskuldigde geraak, en ons ondersteun Jacky se hoop dat Masenya hieruit sal leer en uiteindelik ’n rolmodel vir ander sal word,” sê Bateman.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.