On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Voormalige Springbok in die hof weens beweerde aanranding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Thu, 03 Oct 2024

Voormalige Springbok in die hof weens beweerde aanranding | News Article
’n Voormalige rugbyspeler van Bloemfontein, Naka Drotské. Foto: Getty images

“Drotské (53), ’n voormalige Springbok- en Rugbywêreldbekerwenner, en sy vriend Lionel Palmer (59), sal Donderdag hul tweede verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof maak.”

’n Voormalige rugbyspeler van Bloemfontein, Naka Drotské, sal na verwagting Donderdag (3/10) in die hof verskyn op ’n aanklag van aanranding.

Drotské (53), ’n voormalige Springbok- en Rugbywêreldbekerwenner, en sy vriend Lionel Palmer (59), sal Donderdag hul tweede verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof maak, sê kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder.

Die twee mans, albei inwoners van Shelleyvale in Bloemfontein, is op 15 September in hegtenis geneem ná ’n beweerde aanranding op Drotské se buurman, Vivian John de la Hunt.

‘Die twee mans het glo De la Hunt geskop, gestamp en gesleep’

Volgens Earle het Drotské en Palmer die eerste keer op 16 September hul eerste hofverskyning gehad en op eie verantwoordelikheid vrygelaat.

“Die aanklagte teen Drotské en Palmer sluit in aanranding met die doel om ernstig te beseer. Na bewering het die twee mans glo De la Hunt geskop, gestamp en gesleep tydens ’n woordewisseling wat op 14 September omstreeks 20:30 plaasgevind het.”

Naka net ná die skietvoorval. Foto: BBC

Drotské het in 2018 ’n skietery oorleef tydens ’n huisinval in Pretoria. Tydens die voorval was Drotské, saam met mede-oud-Springbok Os du Randt, by sy broer Tinus se huis in Kameeldrift.

Die groep het pas aangesit vir aandete toe vyf gewapende rowers die huis binnegestorm en op hulle losgebrand het. Drotské het drie skietwonde opgedoen – een aan sy arm en twee aan sy bors. Hy is in die Montana-hospitaal gehospitaliseer.

Drotské het sy Springbok-buiging op 13 November 1993 gemaak in ’n toetswedstryd teen Argentinië in Buenos Aires, waar die Springbokke ’n oorwinning van 52–23 behaal het.

‘Ná sy uittrede het Drotské begin afrig’

Hy was deel van die 1995-Rugbywêreldbekerwengroep, en het later weer by die span aangesluit vir die 1999 Wêreldbeker, waar hy in ses wedstryde gespeel het.

Ná sy uittrede het Drotské begin afrig. Hy het die Vrystaat Cheetahs in die Curriebeker en die Cheetahs in Superrugby van 2007 tot 2015 gelei.

Op 8 Mei 2015 het hy amptelik uit afrigting getree om op nuwe sake-ondernemings te fokus.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.