On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vermoorde Kuruman-boer (81) se liggaam by plaashek gevind

───   HEIDRÈ MALGAS 09:02 Sat, 28 Sep 2024

Vermoorde Kuruman-boer (81) se liggaam by plaashek gevind | News Article
Die landelike gemeenskap word versoek om meer paraat te wees rondom veiligheid en sekuriteit. Foto: Argief

“Daar word beweer dat ’n onbekende bedrag geld vermis word.”

’n 81-jarige boer is Vrydag (27/9) dood aangetref by ’n buurplaas se hek.

Die polisie in Kuruman ondersoek die moord nadat Hendrik Venter se liggaam by die hek van ’n naburige plaas gevind is.

“Hendrik Venter het sy plaas tussen Kuruman en Hotazel om 08:30 verlaat sy beeste te gaan versorg. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig gevind met wonde aan sy kop,” het Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, gesê. “Daar word ook beweer dat ’n onbekende bedrag geld vermis word.”

‘Verskeie verdagtes steeds op vrye voet’

Drie verdagtes is opgespoor nadat die polisie ’n soektog begin het. Teen 18:00 is een van die drie verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle aangekeer is – twee het egter gevlug. Die verdagte wat in hegtenis geneem is, is ’n 25-jarige man.

“Die soektog het bestaan uit eenhede van Kuruman, insluitend K9, Sigbare Polisiëring, Snelwegpatrollie, Misdaadintelligensie, en Plaaslike Kriminele Rekordsentrum. Daar word vermoed dat tot vier verdagtes steeds op vrye voet is, en die opsporingsoperasie duur voort.”

‘Ons is uiters geskok oor die barbaarse wyse waarop die moord gepleeg is’

Agri Noord-Kaap het ’n verklaring uitgereik waarin hulle met skok verneem van die moord op een van hul lede in die Agri Kuruman-distrik. “Ons veroordeel die moord op wyle mnr. Hendrik Venter ten sterkste en is uiters geskok oor die barbaarse wyse waarop die moord gepleeg is. Ons meegevoel gaan aan sy vrou, Odine Venter, die kinders en die hele familie.

“Ons wil ook die Noord-Kaapse polisie bedank vir hul vinnige optrede nadat die moord aangemeld is. Ons versoek die polisie om alles binne hul vermoë te doen om saam met georganiseerde landbou alles in die stryd te werp om plase en landelike gemeenskappe te help beveilig.  

“Dit is kommerwekkend dat sulke tipe misdaad in die Noord-Kaap begin toeneem,” sê mnr. Joe Scholtz, voorsitter van Landelike Veiligheid by Agri Noord-Kaap. “Met die toename in geweldsmisdaad wat landswyd voorkom, word die landelike gemeenskap versoek om meer paraat te wees rondom veiligheid en sekuriteit.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.