On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Goudveldse prediker, vrou bly in aanhouding ná hond se wrede dood

───   HEIDRÈ MALGAS 14:40 Wed, 25 Sep 2024

Goudveldse prediker, vrou bly in aanhouding ná hond se wrede dood  | News Article
Past. Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), bly in aanhouding. Foto Facebook

“Pastoor Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), se borgtog is weer geweier en die paartjie bly in aanhouding.”

’n Prediker en sy vrou het Woensdag (25/9) in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn in verband met die wrede dood van ’n hond op dié Goudveldse dorp. Die saak is uitgestel tot volgende Woensdag (2/10) vir die toekenning van ’n verhoordatum.

“Past. Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), se borgtog is weer geweier en die paartjie bly in aanhouding. Ons bedank die hof op Odendaalsrus, ons staatsaanklaers en ons ondersteuners,” sê Thea Smit, voorsitter van die DBV op Virginia.

Labuschagné en sy vrou word aangekla van dieremishandeling nadat hy die boelterriër Leo verskeie kere met messe gesteek het, asook van die aanranding op die boelterriër se eienaar, Tanya Sanders.

Skermgreep van die voorval. Foto verskaf

OFM Nuus het voorheen berig volgens Smit het die opsigter by die honde-eienaar aangedring dat die boelterriër in ’n leë eenheid gehou word en nie in die woonstelle kon oornag nie. Die eienaar het ingestem en gesê sodra iemand sterk genoeg beskikbaar is om die hond te hanteer, sou hulle hom na die eenheid toe neem.

“Die opsigter het geweier,” beweer Smit, “en het toe natuurlik sy wil begin afdwing … en toe met ’n tou daar ingestorm en Leo uit die erf begin uittrek. Sy’t probeer keer. Sy was alleen.”

Labuschagné het Leo na bewering met ’n tou probeer verwurg. “Toe die tou nie werk nie, het Andries vir Reinette gevra om ’n mes te gaan haal om Leo te steek,” beweer Smit. Dit alles het gebeur terwyl Leo se eienaar bo-op hom gelê het om hom te beskerm en gesmeek het dat sy lewe gespaar word.

Tanya Sanders en Leo. Foto verskaf

Iemand het ’n video geneem van die voorval wat die ronde op sosiale media gedoen het. Talle sosialemediagebruikers was die hoenders in.

Intussen sê die privaat speurder Mike Bolhuis hierdie tragiese gebeurtenis is nie ’n geïsoleerde geval nie. Dis net dat talle soortgelyke voorvalle nie aangemeld word nie. Hy en sy span “is toegewyd daartoe om die mense van Suid-Afrika te laat weet dat ons diep omgee vir diere”.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.