On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Brand in Potchefstroom beskadig motors by handelaar – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Wed, 25 Sep 2024

Brand in Potchefstroom beskadig motors by handelaar – VIDEO | News Article
Talle motors is by die Haval-motorhandelaar beskadig. Foto: Potchefstroom First Responders/Facebook

“Agt klante se voertuie in die werkswinkel het heeltemal uitgebrand.”

Verskeie voertuie het Dinsdag (24/9) in die slag gebly ná ‘n brand wat drie aangrensende ondernemings langs die N12-hoofweg in die Potchefstroom-sakedistrik geraak het.

Die oorsaak van die brand word nog ondersoek, sê Fanie du Toit, VF Plus-raadslid.

“Verskeie munisipale brandbestrydingsvoertuie insluitend ’n watertenkwa is uitgestuur weens uitdagings met waterdruk en beskikbaarheid,” sê du Toit. “Die polisie, die munisipaliteit se brandweer en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se brandweer het almal gereageer om die vlamme te help beheer.”

Die brand het na die Haval-motorhandelaar versprei wat gelei het tot die vernietiging van talle voertuie en toerusting in hul werkswinkel.

Groot skade is aangerig by die Haval-motorhandelaar. Foto: Potchefstroom First Responders/Facebook

“Heldhaftige pogings van individue op die toneel het egter nog groter verliese verhoed, aangesien hulle hul lewe in gevaar gestel het om voertuie en rekenaartoerusting uit die Haval-kantore te red voordat die brand hulle kon verswelg.”

Vincent Clarke, reservis by die JB Marks-munisipaliteit, het aan OFM Nuus  bevestig die betrokke ondernemings sluit in ’n algemene handelaar, ’n drankwinkel en ’n motorhandelaar.  “Agt klante se voertuie in die werkswinkel het heeltemal uitgebrand.”

Clarke sê forensiese kenners van Pretoria sal die oorsaak van die brand ondersoek.


Die Potchefstroomse munisipale rampbestuurseenheid het omstreeks 04:35 ‘n noodoproep ontvang, sê Jeanette Tshite, JB Marks-woordvoerder. 

“Die brandweer het binne vyf minute met een groot brandweerwa opgedaag. Die omvang van die brand was so erg dat hulle ’n bykomende watertenkwa en brandweerwa gestuur het. JB Marks het drie brandbestrydingsvoertuie en14 brandbestryders op die toneel gehad.”

Tshite het die brandbestryders geloof vir hul vinnige optrede om agt nuwe voertuie van die motorhandelaar te red. “Ongelukkig kon ’n paar voertuie nie gered word nie, maar die brandbestryders verdien krediet dat hulle die brand onder beheer gehad het voordat dit vyf nabygeleë olietenks bereik het. Indien die brand na daardie tenks versprei het kon dit 'n massiewe ontploffing veroorsaak het.”

Lt.kol. Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê geen sake is nog aanhangig gemaak nie. “Die polisie sal eers meer inligting kan verskaf sodra die ondersoek op die toneel afgehandel is.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.