On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bespreek vir Akademia se sentrumopedag in Bloemfontein

───   14:49 Wed, 25 Sep 2024

Bespreek vir Akademia se sentrumopedag in Bloemfontein | News Article

“Dit bied jou ’n praktiese blik op die aansoekproses sowel as betalingsopsies, merietebeurse spesifiek vir matrikulante asook die instellings se dinamiese onderrigleermodelle.”

Bevind jy jouself in Sentraal-Suid-Afrika? Oorweeg jy dit om in 2025 as ’n Akademia-student by wyse van óf die voltydse kampusmodel óf ná ure oor afstand agter die boeke in te skuif?

Indien wel, omkring dadelik 5 Oktober in jou dagboek vir die Akademia-sentrumopedag in Bloemfontein.

Die sentrumopedag is meerdoelig van aard. Voornemende studente kan inligting oor beskikbare studierigtings bekom, personeel ontmoet, kwelvrae opper én eerstehands ervaar wat Fontie-wees aan dié onafhanklike hoëronderwysinstelling behels. 

Meer nog, dit bied jou ’n praktiese blik op die aansoekproses sowel as betalingsopsies, merietebeurse spesifiek vir matrikulante asook die instellings se dinamiese onderrigleermodelle. Laasgenoemde maak dit vir enigeen moontlik om sy/haar studiedroom na te jaag – vanaf skoolverlaters wat kopkrap oor wat hul ná afloop van gr.12 wil doen, tot werkende persone wat hul loopbaanmoontlikhede wil verbreed.

Saterdag 5 Oktober, 09:00 tot 10:30

The Towers-winkelsentrum, Koppieweg 1, Langenhovenpark

Bespreek jou plek hier.

Volgens Lizán Maree, Akademia se bemarkingsbestuurder, is die sentrumopedag ’n belangrike roetewyser op enige voornemende Fontie se studiereis. Daarom is dit belangrik om op dié dag soveel moontlik inligting in te win, vrae te vra en by huidige Fonties kers op te steek. 

“Die keuse van ’n studietuiste is nie een wat ligtelik gemaak moet word nie, en daar is baie oorwegings om in ag te neem. Kom kuier vir ons tydens die sentrumopedag en kom vergewis jouself van die hart en wese van Akademia,” sê Maree. ’n Span ervare akademici, kundige ondersteuningspersoneel en huidige studente sal gereed staan om met raad en daad te help.

Opleiding binne bereik

Die instelling se landswye sentrumnetwerk bied ’n belangrike ondersteuningsnode vir studente, sê Maree. Hierdie netwerkvoetspoor is spesifiek in Afrikaanse gemeenskappe gesetel om toeganklike universiteitsvlakopleiding binne studente se bereik te plaas.

In dié opsig vervul elke sentrum die rol van ’n akademiese tuiste vir Fonties in ’n bepaalde geografiese gebied. Binne hierdie milieu word vriendskappe gesmee, professionele netwerke uitgebrei en ondersteuning gebied.

Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop. Besoek die Akademia-webblad vir nog inligting.

Die sentrumopedag bied aan voornemende studente die geleentheid om met kundige en ervare personeel te gesels en só vorm aan hul studiereis te gee.

mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.