On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Só maak ’n mens met ’n verlore hond – 5 wenke

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:00 Tue, 17 Sep 2024

Só maak ’n mens met ’n verlore hond – 5 wenke | News Article
Foto: iStock

“Die gedrag van die persoon wat die hond vind, speel ’n groot rol omdat ’n mens se optrede die hond s’n sal beïnvloed.”

As jy lief is vir diere, is dit normaal dat jy wil help wanneer jy ’n verlore hond gewaar.

Wat die hereniging van troeteldiere met mense betref, dui navorsing deur die Missing Animal Response Network aan dat die gedrag van die persoon wat die hond vind, ’n groot rol speel omdat ’n mens se optrede die hond s’n sal beïnvloed.

Bly deurentyd kalm sodat jy die regte stappe kan volg om die viervoetige vriend veilig by sy ouers uit te kry.

  • Verseker veiligheid

Voordat jy die hond nader, beoordeel die situasie. Maak seker dat die hond nie in onmiddellike gevaar is nie, soos naby verkeer of aggressiewe diere. As die hond bang of aggressief lyk, handhaaf ’n veilige afstand en vermy skielike bewegings.

Volgens The American Kennel Club is daar sommige tekens om na op te let, soos lyftaal, ontblote tande en hare wat regop staan. Hulle waarsku egter dat ’n waaiende stert nie ’n waarborg van ’n vriendelike gesindheid is nie.

Foto: Shutterstock

  • Kyk vir identifikasie

As die hond kalm is, kyk vir ’n identifikasieplaatjie aan die halsband. Hierdie plaatjie kan inligting verskaf oor die eienaar of ’n telefoonnommer om te bel. Indien die hond nie so plaatjie het nie, het hy moontlik ’n mikroskyfie. Hierdie skyfies is nie sigbaar nie.

Neem die hond na ’n veearts of troeteldierskuiling om die mikroskyfie te skandeer om te sien of hulle die hond se eienaars kan opspoor.

Foto: Shutterstock

  • Maak seker die hond is veilig

Indien moontlik, hou die hond veilig vas om te verhoed dat hy weer weghardloop. Gebruik ’n leiband as jy een het, of lei die hond na ’n veilige plek soos ’n omheinde tuin of ’n stil plek. Maak seker dis gemaklik en gee water vir die hond.

Foto: Shutterstock

  • Stel plaaslike skuilings in kennis

Meld die verlore hond aan by plaaslike diereskuilings of veeartse. Gee ’n gedetailleerde beskrywing van die hond, insluitend ras, grootte, kleur en enige onderskeidende kenmerke. Kyk ook of daar enige advertensies is oor verlore honde wat ooreenstem met die beskrywing van die hond wat jy gevind het.

Foto: Shutterstock

  • Laat mense weet

Gebruik sosiale media en gemeenskapsplatforms om ander mense in kennis te stel oor die hond wat gevind is. Plaas duidelike foto’s en ’n beskrywing op troeteldiergroepe asook enige ander groepe. Sluit jou kontakbesonderhede en enige ander inligting in oor waar en wanneer die hond gevind is.

Foto: Shutterstock

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.