On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Steeds ‘geen aanspreeklikheid’ ná Bethlehem se lugskouramp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Mon, 16 Sep 2024

Steeds ‘geen aanspreeklikheid’ ná Bethlehem se lugskouramp | News Article
Miljoene rand se skade is aangerig. Foto: Facebook

“Hoewel Tseki op 9 September beraadslaag het met diegene wat geraak is, het dit op niks bevredigends uitgeloop nie. Die munisipaliteit ontduik steeds verantwoordelikheid.”

Die afwesigheid van dringendheid en ontduiking van aanspreeklikheid ná die onlangse ramp by Bethlehem se lugskou is teleurstellend.

So sê Eric Motloung, DA-raadslid in Dihlabeng-munisipaliteit, nadat ’n veldbrand verlede Saterdag (7/9) oorkant die Bethlehem-lugskou ontstaan en enorme skade aangerig het.

“Die DA in Dihlabeng is diep teleurgesteld oor Nthabeleng Mofokeng, speaker, en Tseki Tseki, burgemeester, se totale gebrek aan optrede ná die ramp.”

Tseki Tseki, burgemeester. Foto: Facebook

Die brand het vroeg die middag ontstaan op ’n stuk grond wat mense as parkeerterrein oorkant Bethlehem se vliegveld gebruik het. Negentien voertuie is beskadig waarvan nege heeltemal vernietig is.

Die DA in die Vrystaat het vroeër aan OFM Nuus  gesê die skuld vir die ramp moet voor die plaaslike munisipaliteit se deur gelê word.

Talle motors is in die brand vernietig. Foto verskaf

Maar Peter Muller, wykskomiteelid, stem nie saam nie. “Die brand het buite die munisipaliteit se jurisdiksie plaasgevind en kon in enige veld ontstaan het, dus kan die munisipaliteit nie aanspreeklik gehou word vir die voorval nie, aangesien dit veroorsaak is deur ’n braaivleisvuur wat die veld aan die brand gesteek het.”

Motloung sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend gemaak nie. “Hoewel Tseki op 9 September beraadslaag het met diegene wat geraak is, het dit op niks bevredigends uitgeloop nie. Die munisipaliteit ontduik steeds verantwoordelikheid.”

Die DA, wat sewe raadslede het vergeleke met die ANC se 23 uit 40, het die speaker gevra om ’n dringende raadsvergadering te belê om onder meer ’n gedetailleerde verslag oor die lugskou, notules van die art. 4- voorbereidende vergadering, die goedgekeurde aansoek, versekeringbesonderhede en ’n Sasria-nakoming te bekom.

Nthabeleng Mofokeng, speaker. Foto: Facebook

“ ’n Week later is nog geen sodanige kennisgewing aan raadslede gerig nie wat dui op ’n blatante verontagsaming van behoorlike proses.”

Hierdie gebrek aan optrede is deel van ’n kommerwekkende patroon in die munisipaliteit waar aanspreeklikheid gereeld vertraag, vermy of verwaarloos word, hoofsaaklik weens die speaker se pligsversuim.

“Ons het ons wetgewerlede gevra om die saak daar verder te voer en sal aanhou druk plaas op Mofokeng om ’n gedetailleerde, omvattende verslag te lewer met aanbevelings om slagoffers te vergoed en sulke voorvalle in die toekoms te voorkom,” sê Motloung.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.