On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Rioolvuil oorstroom Noord-Kaapse skoolterrein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:26 Fri, 13 Sep 2024

Rioolvuil oorstroom Noord-Kaapse skoolterrein | News Article
Die terrein van die Warrenvale Gekombineerde Skool. Foto verskaf

“Die vieslike reuke beïnvloed die skool sowel as omliggende huise wat die Warrenton-gemeenskap blootstel aan skadelike bakterieë en besoedelingstowwe.”

‘n Skool in die Noord-Kaap het onlangs die jongste slagoffer geword van oorstromings as gevolg van rioolvuil.

“Die kwessie is reeds tydens die Junie-skoolvakansie by die Magareng aangemeld,” sê Deidré Watson, DA-raadslid. 

Oorvol dreine het dele van die Warrenvale Gekombineerde Skool op Warrenton oorstroom, asook nabygeleë huise se tuine. “Die vieslike reuke beïnvloed die skool sowel as omliggende huise wat die Warrenton-gemeenskap blootstel aan skadelike bakterieë en besoedelingstowwe.”

Die rioolvuil oorstroom die skool se terrein. Foto: Facebook

’n Inwoner wat oorkant die skool woon, beskryf die rioolvuil as ondraaglik. “Sy kinders kan nie buite speel nie omdat ’n rivier rioolvuil deur hul erf vloei,” sê Watson.

“Boonop het ’n onderwyser ook gekla dat die riooloorloop die opvoedkundige omgewing ernstig ontwrig en groot bekommernis vir die gesondheid en veiligheid van die leerders veroorsaak.”

Matelose frustrasie

Die dorp het ook onlangs ’n “droë week” beleef toe die watertoevoer afgesny is. Dit het die rioolvuil probleem tydelik verlig omdat inwoners nie hul toilet kon spoel nie. “Sodra die water egter herstel is, het die situasie na sy vorige toestand teruggekeer,” sê Watson.

Ten spyte van die DA se herhaalde kennisgewings aan die munisipaliteit oor die rioolvuil is nog geen besluit geneem nie. Die versuim van die munisipale bestuurder om formeel te reageer en om die probleem op te los, frustreer Watson. 

‘Die situasie het die afgelope dekade aansienlik versleg’

Die DA het ook navraag by die onderwysdepartement gedoen oor rioolvuiloorstromings by skole in Kimberley en op Hanover. “Ek sal hierdie saak vir dringende aandag in die wetgewer aan die departemente van samewerkende regering en onderwys verwys.”  

In die Groendruppel-verslag vir 2023 is Warrenton se afvalwaterbehandelingsgeriewe aangewys as een van 59 kritieke stelsels in die Noord-Kaap. Die situasie het die afgelope dekade aansienlik agteruitgegaan. Watson beklemtoon dit is onaanvaarbaar dat dit voortgaan om onderrig te belemmer.

OFM Nuus het Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.