On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Ry versigtig op Sentraal-Suid-Afrika se nat paaie

───   HEIDRÈ MALGAS 12:44 Tue, 17 Sep 2024

Ry versigtig op Sentraal-Suid-Afrika se nat paaie | News Article
Foto: Wes-Kaapse regering

“Die beste manier om veilig te wees tydens gure weer is om glad nie te bestuur nie. Selfs vir die ervare bestuurder met die beste voertuig is dit die sekerste manier om ’n ongeluk te vermy.”

Die eerste swaar neerslae van die somerreënseisoen in Sentraal-Suid-Afrika bring wel verligting ná die droë maande, maar maak die paaie ook gevaarlik.

Volgens Arrive Alive het Amerikaanse navorsers en statistici bevind 24% van alle botsings vind plaas tydens gure weer, soos ys, sneeu en reën. In sonnige Suid-Afrika kan die weer skielik verander en ’n nagmerrie op die paaie veroorsaak.

Stel rit liewer uit

“Die beste manier om veilig te wees tydens uiters slegte weer is om glad nie te bestuur nie. Selfs vir die ervare bestuurder met die beste voertuig is die sekerste manier om ’n ongeluk of probleem op die pad in stormweer te vermy, om tuis te bly en te wag tot die weer opklaar.

“Indien moontlik, is dit beter om ’n rit uit te stel en tuis te bly wanneer ’n uiterste weerstelsel deur jou gebied beweeg.” van die Wes-Kaapse regering

Foto: Arrive Alive

Hier is ’n paar wenke van die Wes-Kaapse regering om jou te help wanneer jy in die reën bestuur: 

  • Skakel jou hoofligte aan om beter te sien en gesien te word.
  • Ry stadiger wanneer dit reën, maar haal jou voet geleidelik van die versneller af omdat dit gevaarlik is om skielik rem te trap.
  • Vergroot die afstand tussen jou voertuig en die voertuig voor jou.
  • Moenie skielik rem trap nie, want dit kan jou voertuig laat gly.
  • Dit kan moeilik wees om deur nat kantvensters en kantspieëls te kyk. Wees bewus van ander voertuie agter jou en in jou blindekolle.
  • Pasop vir oliekolle op die pad wat dit gladder kan maak. Moenie paniekerig raak nie. Moenie skielik rem trap nie. In die meeste gevalle sal die kolle klein wees.
  • Wag ’n kort rukkie nadat die reën begin het voor jy ruitveërs gebruik, want die lemme kan jou voorruit vlek en dit moeilik maak om te sien.
  • As ’n aankomende voertuig ’n ander voertuig wil verbygaan en dit nie veilig kan doen nie, ry stadiger en wees bereid om in die linkernoodbaan in te ry.
  • Beweeg net na die linkernoodbaan as jy minstens 150 m duidelik voor jou kan sien. Hou in gedagte dat voetgangers en fietsryers ook hierdie baan kan gebruik.


Belangrike dinge om op jou voertuig te kontroleer, veral vir die winter:

  • Belê in goeie ruitveërs sodat die voorruit deeglik skoongemaak kan word.
  • Gaan jou bande gereeld na en maak seker dat hulle ’n voldoende loopoppervlak het vir beter padhouvermoë.
  • Maak seker jou voertuig se spieëls is in ’n goeie toestand.
  • Maak seker jou hoofligte werk.
  • Maak seker jou rem- en flikkerligte werk.
  • Maak seker jou modderskerms is veilig.

Vir diegene wat op die pad moet wees, is dit noodsaaklik om te beplan vir die rit! Ritte in gure weer duur gewoonlik langer en is meer stresvol. As jy nie genoeg toelaat om jou bestemming te bereik nie, kan dit jou gespanne maak en jou bestuursvernuf nadelig beïnvloed.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.