On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

BBP-beskermers in Upington beboet vir diefstal

───   HEIDRÈ MALGAS 15:59 Tue, 17 Sep 2024

BBP-beskermers in Upington beboet vir diefstal | News Article
Foto ter illustrasie. Foto: Corné Greyvenstein

“Die saak dateer vanaf 2014, maar die twee is eers Maandag (16/9) gevonnis weens hul vertragingstaktieke.”

Die streekhof op Upington het twee beamptes van die polisie se BBP-beskermingseenheid gevonnis vir die diefstal van R60 000 kontant.

Hulle kan boetes van R30 000 elk maandeliks afbetaal of drie jaar tronkstraf uitdien, opgeskort vir vyf jaar. 

Michael Sibiya (48) en Tebogo Noe (46) is in hegtenis geneem vir diefstal wat in Maart 2014 plaasgevind het. Hulle is eers Maandag (16/9) gevonnis omdat hulle jare lank vertragingstaktieke gebruik het, sê Tebogo Thebe, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

‘Hulle het probeer om hul buit na hul adresse in Kimberley te stuur’

“Polisiebeamptes het ’n plaaslike winkelsentrum besoek en onverwags op R60 000 kontant afgekom. Pleks daarvan om die eienaar te probeer opspoor, het hulle besluit om flitse te koop en die geld in die verpakking weg te steek. 

“Hulle het toe probeer om hul buit met ’n plaaslike koerier na hul adresse in Kimberley te stuur.”

Werknemers van die koerierdiens op Upington het die pakkie oopgemaak toe hulle agterdogtig raak, en op die kontant afgekom. Hulle het onmiddellik die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad op Upington in kennis gestel.

‘Integriteit is nie onderhandelbaar vir polisiebeamptes nie’

“Die polisiebeamptes is onmiddellik in hegtenis geneem. Ná ’n lang en uitgerekte verhoor is albei in Januarie 2016 skuldig bevind.”

Elkeen is beboet met R30 000, betaalbaar in maandelikse paaiemente, of drie jaar gevangenisstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Genl.maj. Stephen Mabuela, Noord-Kaapse Valke-hoof, verwelkom die vonnis. “Integriteit is nie onderhandelbaar vir polisiebeamptes nie; dié wat nie aan hierdie belangrike eienskap voldoen nie, het geen plek in die polisiediens nie.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.