On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

‘Eens pragtige Upington verval weens rioolstortings’ – DA

───   HEIDRÈ MALGAS 11:04 Sat, 24 Aug 2024

‘Eens pragtige Upington verval weens rioolstortings’ – DA | News Article
Munisipale werkers herstel riooldreine. Foto: Facebook/Dawid Kruiper-munisipaliteit

“Die DA versoek die dringende herstrukturering van die riooleenheid.”

Upington word oorstroom deur riool, maar die Dawid Kruiper-munisipaliteit is nie by magte om dié krisis die hoof te bied nie, meen die DA.

“Die DA versoek die dringende herstrukturering van die riooleenheid,” sê DA-rdl. Flip van der Steen. “Die eens pragtige dorp verval nou vinnig weens gereelde rioolstortings.”

Sy kollega, rdl. Erica Strauss, plaas deurlopend druk op die munisipaliteit om die gereelde storting agter CTM te hanteer, van waar dit in die Oranjerivier beland.

‘Rioollekkasies maak die lewe op Upington ondraaglik’ 

Van Der Steen dring by die munisipaliteit aan om die rioolstorting agter die Protea-hotel, wat ook  in ’n kanaal stort, te herstel. “Die lek agter Checkers word ook reeds maande lank nie herstel nie, terwyl riool steeds in die veld langs die winkelsentrum opdam.

“Dis van die meer prominente rioollekkasies wat die dorp teister, die kwaliteit van die kanaal en rivier bedreig, die gesondheid van inwoners in gevaar stel, besighede ruïneer en die lewe op Upington ondraaglik maak.”

Hy sê sowat tien jaar gelede is die rioolspan ontbind, wat gelei het tot swak instandhouding van die rioolstelsel. “Die munisipaliteit verkies nou om verstopte dreine op ’n lukrake en ondoeltreffende wyse te hanteer, slegs wanneer dit voorkom.”

Rioolplan nie in werking gestel

Die DA se herhaaldelik versoeke op raadsvergaderings om die toegewyde riool-instandhoudingspan terug te bring is aanvaar, maar nooit in werking gestel nie.

Die DA gaan ’n voorstel aan die munisipale bestuur indien vir die herstrukturering van die eenheid en vir verhoogde voorkomende instandhouding, sê Van der Steen. “Die DA sal ook aanhou om ander maniere te ondersoek om die munisipaliteit verantwoordelik te hou vir sy rioolmislukkings, insluitend deur voortdurende klagtes by die Menseregtekommissie (MRK) in te dien.”

’n Munisipale werkers besig by rioolstorting in Upington te herstel. Die foto is in 2023 geneem. Foto: Facebook/Dawid Kruiper-munisipaliteit

Die provinsiale DA wend hom ook tot die kommissie oor rioolprobleme in die Noord-Kaap. Kommer heers egter oor die gebrek aan samewerking van plaaslike en provinsiale regeringsinstellings met MRK-ondersoeke, wat lei tot die ontwyking van aanspreeklikheid.

DA wil Menseregtekommissie nader

“Belangrike kwessies sluit in ’n agt jaar lange rioolstorting op Keimoes, die besoedeling van die Oranjerivier by Upington, die verlies van behuising in Kimberley weens riool, beperkings op toegang tot water op Postmasburg en watertekort weens Kimberley se wateronderbrekings,” sê DA-LP Delmaine Christians.

Christians sê hoewel die kommissie op klagtes reageer, belemmer regeringsliggame dikwels ondersoeke, weerhou inligting en verontagsaam aanbevelings.

Die DA wil vra dat die wetgewer meer gereelde en doeltreffender vergaderings met die MRK fasiliteer. Hulle wil ook reël dat die kommissie se Noord-Kaapse amptenare met die relevante parlementêre komitees beraadslaag om ernstige water- en sanitasieklagtes aan te spreek.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cvdw

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.