On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-tragedie: ‘Sy is weg, maar gee lewe aan ander’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:33 Fri, 23 Aug 2024

Welkom-tragedie: ‘Sy is weg, maar gee lewe aan ander’ | News Article
Britney Lee se dood maak die lewe vir ander moontlik. Foto: Facebook

“Die dokter het Maandag (19/8) aan die familie die hartseer nuus meegedeel dat Britney se toestand vererger het, en na twee afsonderlike breintoetse is sy breindood verklaar.”

’n Gedenkdiens word Sondag (25/8) vir ’n geliefde jong inwoner van Welkom gehou.

Britney Lee se lewe is op 20 kortgeknip, maar haar besluit om haar organe te skenk, bied talle ander die kans bied op ’n langer en gesonder lewe. Sy is op Maandag (19/8) breindood verklaar, waarna haar lewensondersteuning Woensdag (21/8) afgeskakel is, vertel haar gebroke familie.

Britney het op 30 Julie borspyne ervaar en is ongevalle toe geneem. Ná ’n ondersoek het medici gesê dit was ’n “paniekaanval” en is sy ontslaan. Die griepagtige simptome en moegheid wou egter nie weggaan nie.

Nege dae later is sy weer dokter toe; dié keer was die diagnose ’n virusinfeksie.

Britney Lee, ’n orgaanskenker, se dood maak dit vir ses mense moontlik om beter te leef. Foto verskaf

Daardie Donderdagaand 8 Augustus ná ete het Britney aan haar familie genoem dat sy nie lekker voel nie en gaan slaap. Kort daarna het sy begin opgooi en van kwaai hoofpyne gekla. Om middernag het hulle haar op die vloer aangetref terwyl sy stuiptrekkings gekry en skuim om die mond gehad het.

Hulle het met haar hospitaal toe gehaas, waar bevind is dat haar bloedsuiker op 57 mg/dL (3,16 mmol/L) gevaarlik laag was. Britney het in ’n diabetiese koma verval en is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas vir dringende sorg.

Nie weer bewussyn herwin

Ten spyte van pogings om haar te stabiliseer, het sy ophou asemhaal terwyl haar polsslag sterk gebly het, vertel haar geliefdes. ’n Ventilator is gebruik om haar asemhaling te ondersteun terwyl sy haar bloedsuikervlakke genormaliseer was, maar sy het nie gereageer nie.

Britney is toe onder sedasie geplaas. Sy het nie haar bewussyn herwin nadat die dokter haar probeer wakker maak het nie, waarna ’n breinskandering op 12 Augustus gedoen is. Dit het aansienlike swelling aan die lig gebring.

Britney Lee se geliefdes onthou haar as “dinamies”. Foto verskaf

Die langdurige siekte het ’n erge skokreaksie in haar liggaam veroorsaak, wat tot die swelling gelei het. Haar pankreas het insulienproduksie gestaak, wat gelei het tot ’n kritieke toestand soortgelyk aan tipe 1-diabetes – ’n seldsame voorkoms by volwassenes, wat slegs 1–2% van die gevalle affekteer.

Boonop het ’n hoë infeksietelling bygedra tot die swelling van die brein.

Die dokter het Maandag (19/8) aan die familie die hartseer nuus meegedeel dat Britney se toestand vererger het, en na twee afsonderlike breintoetse is sy breindood verklaar.

‘’n Roerende video wys hoe familie, vriende en hospitaalpersoneel ’n erewag vorm’

Brenda Lee-Neetling, Britney se suster, het hul ouers, Johan en Belinda, in kennis gestel van Britney se wens om ’n orgaanskenker te wees. “Die besluit was nie maklik nie, maar deur gebed het die Here my ouers vrede gegee om die skenking van haar organe toe te laat.”

’n Roerende video, wat wyd op sosiale media gedeel word, wys hoe familie, vriende en hospitaalpersoneel ’n erewag vorm terwyl Britney se bed die operasieteater binnegestoot word.

Brenda-Lee sê daar is geen woorde wat Britney werklik kan beskryf nie. “Sy was die mees onselfsugtige mens wat ek geken het. ’n Ou siel wat lief was vir ABBA, sy het gedans en gelag, en haar teenwoordigheid het jou warm van binne laat voel.

Britney Lee se gedenkdiens word Sondag in haar tuisstad gehou.

“Sy was dinamies, met geen skakerings van grys in haar persoonlikheid nie. Almal wat haar geken het, sou sê sy was ’n sonstraal. Sy was innig lief vir haar vriende en familie. Alle eer aan God dat ons deel van haar lewe kon wees.”

Volgens Brenda spreek dit boekdele dat Britney se organe ander mense se lewe kan red. “Haar hart was kosbaarder as goud. Sy het die laaste van haarself gegee.

“Dele van haar leef nou voort binne ses verskillende mense wie se gebede verhoor is. Iets waaroor ons baie gepraat het wanneer ons oor die ewige lewe gepraat het,” sê Brenda.

Britney se gedenkdiens word Sondag 25 Augustus om 12:00 in Salt & Pepper in Welkom gehou.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.