On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

‘Private speurder’ van Vanderbijlpark sterf toe hy vir polisie vlug

───   HEIDRÈ MALGAS 14:28 Fri, 23 Aug 2024

‘Private speurder’ van Vanderbijlpark sterf toe hy vir polisie vlug | News Article
Elandre (Allie) Alberts was bekend in veiligheidsdienste. Foto verskaf

“Dit lyk of hy aan ’n hartaanval oorlede is, maar ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak te bepaal.”

’n Sogenaamde private speurder van die Vaaldriehoek is dood nadat hy ineengestort het terwyl die polisie warm op sy spoor was.

Elandre (Allie) Alberts, wat bekend is in veiligheidsdienste, het Sondag (18/8) tydens ’n polisieoptrede op Vanderbijlpark vermoedelik ’n hartaanval gehad.

“Toe die polisiebeamptes hom bereik was dit duidelik dat hy reeds oorlede was. Die polisie het die paramedici gekontak wat hom op die toneel dood verklaar het,” sê Mike Bolhuis, ’n private ondersoeker. “Dit lyk of hy aan ’n hartaanval oorlede is, maar ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak te bepaal.”

Alberts was vroeër verbonde aan die veiligheidsmaatskappy Specialised Security Services (SSS) en was glo betrokke in wapentransaksies. Hy het hom die laaste tyd as ’n private speurder voorgedoen.

‘Hy was bekend vir omstrede ondersoeke’

Hy het die afgelope paar jaar verskeie regsprobleme gehad, sê Bolhuis. Hy was bekend vir omstrede ondersoeke. Hy is onder meer in hegtenis geneem omdat hy hom voorgedoen het as ’n polisiebeampte, asook vir afpersing, korrupsie en die besit van onwettige ivoor.

“Allie was bekend vir veiligheidsdienste, maar baie sake is teen hom ingebring en hy het gereeld met die gereg gebots,” sê Bolhuis. SSS het talle ondersoeke  gedoen en daar is steeds lopende sake teen hom. 

“Daar het inligting deurgekom dat hy met wapentransaksies besig was. Die polisie het na die toneel gegaan en wou hom in hegtenis neem. Hy het probeer weghardloop, maar het ná ’n entjie ineengestort.”

‘Daar was na bewering 25 vorige sake teen Alberts’

SSS het voorheen verskeie waarskuwings oor Alberts uitgereik. Daar was na bewering minstens 25 vorige sake van verskillende misdade teen Alberts. Hy is sewe gevalle skuldig bevind is. 

Bolhuis vra die publiek moet hulle weerhou van bespiegeling en kommentaar oor Alberts se lewe en dood uit respek vir sy naasbestaandes. Met elke hervertelling van die omstandighede rondom Alberts se dood word die gerugte “meer oordrewe en gruwelik.” Dit kan boonop die polisie se ondersoek benadeel.

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.