On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

‘Meneer Water’ van Bloemfontein dan gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:17 Thu, 22 Aug 2024

‘Meneer Water’ van Bloemfontein dan gegroet | News Article
Rossouw en sy vrou, Eljo. Foto: Facebook

“Botes het in verlede jaar ’n groot hartoperasie in Kaapstad ondergaan nadat ’n geskikte skenkerhart nie gevind kon word nie. In Augustus verlede jaar het hy die elfde persoon geword wat ’n linkerventrikulêre bystandstoestel (LVAD) ontvang het.”

’n Troosdiens word volgende week vir ’n geliefde raadslid van Bloemfontein gehou. 

DA-raadslid Rossouw Botes (66) is Maandag (19/8) in die Life Rosepark-hospitaal in Fichardtpark oorlede. Hy was verlede week ernstig siek in die hospitaal se waakeenheid, sê Werner Horn, Vrystaatse provinsiale DA-voorsitter.

Botes het in verlede jaar ’n groot hartoperasie in Kaapstad ondergaan nadat ’n geskikte skenkerhart nie gevind kon word nie. In Augustus verlede jaar het hy die elfde persoon geword wat ’n linkerventrikulêre bystandstoestel (LVAD) ontvang het.

Rossouw Botes. Foto verskaf

In Junie het Botes aan OFM Nuus gesê dat hy weens gesondheidskwessies ná 16 jaar as DA-wyksraadslid sou bedank, nadat hy die afgelope jaar twee keer groot hartoperasies in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad ondergaan het.

Botes, wat ook bekend gestaan het as “Meneer Water”, het Wyk 25 ( Fichardtpark en Pellissier) in die metroraad verteenwoordig en is in 2015 as die beste raadslid in die Vrystaat aangewys.

Huldeblyke het intussen vir Botes ingestroom.

‘Hy was ’n ware staatsamptenaar’

“Rossouw was so ’n inspirasie in my lewe,” sê David McKay, ’n goeie vriend. “Ek sal nooit die waardevolle lesse wat hy my geleer het, vergeet nie.

“Ek glo vas dat wanneer ons iemand na aan ons verloor, soos Rossouw, hulle deur ons voortleef en ons ongelooflike krag gee. Hulle is so verbind aan ons dat hulle deel van ons word.”

Werner Pretorius het Botes as “enig in sy soort” beskryf, terwyl dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, koukusleier van die VF Plus, hom as ’n man van integriteit geloof het. “Sy liefde vir Bloemfontein en sy inwoners was duidelik in alles wat hy gedoen het. Hy was ’n ware staatsamptenaar.”

“Meneer Water”. Foto verskaf

In die twee maande voor sy dood het Botes ’n nuwe hoofstuk in sy politieke loopbaan aangepak. As proporsionele raadslid het hy die verantwoordelikheid aanvaar om toesig te hou oor dienslewering binne die DA-koukus, insluitend die bestuur van water en ander noodsaaklike dienste in die Mangaung-metro.

Botes word deur sy vrou, Eljo, en twee dogters oorleef.

Die troosdiens word Maandag (26/8) om 11:00 gehou in die NG Kerk Pellissier, waar Botes jare lank hoofdiaken was.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.