On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

40 t voer aan boere geskenk ná skade weens veldbrande

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:49 Thu, 22 Aug 2024

40 t voer aan boere geskenk ná skade weens veldbrande | News Article
Van die boere was bewoë tydens die aflewering van die voer. Foto verskaf

“Die eerste brand het op Donderdag (8/8) omstreeks 12:00 naby die Lindequesdrift-kruising op die R500 ontstaan en die naweek op verskeie plekke bly opvlam.”

Altesaam 40 t voer is aan boere in Noordwes en Gauteng geskenk nadat hulle al hul winterweiding in ’n verwoestende veldbrand verloor het. 

AfriForum is dankbaar dat hy hierdie boere met voer vir hul vee uit die burgerregteorganisasie se noodfonds kon help, sê Tarien Cooks, hul rampbestuurspesialis. Die skenking is met groot dankbaarheid ontvang, en van die boere was bewoë tydens die aflewering van die voer.

Die eerste brand het op Donderdag (8/8) omstreeks 12:00 naby die Lindequesdrift-kruising op die R500 ontstaan en die naweek op verskeie plekke bly opvlam.

Altesaam 40 t voer is aan boere in Noordwes en Gauteng geskenk. Foto verskaf

“Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n tarentaal wat in ’n vashok gevang is, en toe in die veld gebraai is,” het Sarel van der Walt, voorvalbevelvoerder vir die Potchefstroom en Vaal Eden Brandvereniging se Oproepgroep, vroeër aan OFM Nuus gesê. “Ongeveer 40 voertuie en 100 personeellede was betrokke by die bestryding van die vlamme, wat uiteindelik omstreeks 19:00 onder beheer gebring is.”

Vermoedelik weens Eskom-kabels

Tydens die brand is ’n bakkie met ’n boer en ’n plaaswerker in vlamme gehul. Die plaaswerker het sy lewe verloor. Die boer het ernstige beserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Nog ’n veldbrand het Saterdag (10/8) tussen Fochville en Potchefstroom uitgebreek, wat vermoedelik veroorsaak is deur Eskom-kabels wat weens sterk wind verstrengel geraak het.

Ongeveer 40 voertuie was betrokke by die bestryding van die vlamme. Foto verskaf

Verskeie plaaswerkers en ’n boerseun, wat inderhaas die vasgekeerde plaaswerkers tydens die brand gehelp het, het brandwonde opgedoen en is na die hospitaal gehaas. “Almal is reeds ontslaan,” het Van der Walt Donderdag (22/8) bevestig.

Die veldbrand het egter op Sondag (11/8) naby Fochville in Gauteng opgevlam. Weens winde van meer as 35 km/h het die brand vinnig deur Gauteng, Noordwes en die Vrystaat versprei.

Alle weiding is binne ’n paar uur gebrand, wat ongeveer 2 000 vee vir die res van die seisoen tot die eerste goeie reënval sonder kos gelaat het. ’n Bees eet gemiddeld sowat 10 kg voer per dag.

AfriForum is dankbaar dat hy hierdie boere met voer vir hul vee kon help. Foto verskaf

Volgens Cooks is hierdie skenking slegs moontlik danksy almal wat bydra tot AfriForum se noodfonds. Dié fonds “skep hoop” in gemeenskappe wat die slagoffer is van rampe of ernstige voorvalle.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.