On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Rioolkrisis in Welkom steeds ’n kopseer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:58 Thu, 22 Aug 2024

Rioolkrisis in Welkom steeds ’n kopseer | News Article
Riool stroom reeds maande in Welkom se strate. Foto verskaf

“Welkom is die hoofstad van die munisipaliteit, met die meeste sakelui en inwoners wat deur hul munisipale bydraes ’n groot deel van Matjhabeng se inkomste verseker.”

Ten spyte van ingryping op nasionale vlak het inwoners van Welkom steeds te kampe met ’n enorme rioolkrisis. Hoewel enige besteding aan rioolinfrastruktuur in Matjhabeng-munisipaliteit verwelkom word, is die VF Plus bekommerd daaroor dat Welkom aan die agterspeen suig, sê raadslid Stephan Pienaar.

In antwoord op ’n vraag van die VF Plus, het Pemmy Majodina, minister van water en sanitasie, gesê haar departement het R1,6 miljard bewillig om sanitasieprobleme in Matjhabeng die hoof te bied.

Pienaar sê dié bedrag is aansienlik meer as die R425 miljoen wat Majodina se voorganger, Senzo Mchunu, in November 2022 op besoek aan die munisipaliteit aangekondig het. “Uit Majodina se antwoord blyk dit egter dat die meeste van dié geld in Thabong bestee gaan word.”

‘Riool stroom reeds maande in die strate’

Pienaar sê die VF Plus meen Welkom se sanitasieprobleme verdien ewe veel aandag, veral weens die kritieke uitdagings in gebiede soos die Goldfields Mall, Koppie Alleenweg en Constantia, waar riool reeds maande in die strate stroom.

“Welkom is die hoofstad van die munisipaliteit, met die meeste sakelui en inwoners wat deur hul munisipale bydraes ’n groot deel van Matjhabeng se inkomste verseker.

“Volgens die minister se antwoord het die werklike uitgawe aan ingrypings teen die einde van Julie 2024 altesaam R679 miljoen beloop. Dit behels onder meer uitgawes aan konstruksie, professionele fooie en noodherstelwerk,” sê Pienaar.

Stephan Pienaar sê hy is bekommerd dat Welkom aan die agterspeen suig. Foto verskaf

Hy verseker egter die inwoners dat die VF Plus in ’n opvolgvraag sal versoek dat die minister meer duidelikheid gee oor wat die professionele fooie behels en hoe dit tot die verbetering van infrastruktuur bygedra het.

Volgens Better Health Channel hou riooloorstromings verskeie gevare vir openbare gesondheid en die omgewing in: 

  1. Riool bevat skadelike patogene soos bakterieë, virusse en parasiete wat siektes soos cholera, disenterie, hepatitis en gastroïntestinale infeksies kan veroorsaak. Direkte kontak of inaseming van besmette water kan tot ernstige gesondheidskwessies lei.
  2. Oorstroomde rioolwater kan in watervoorrade insypel, wat drinkwaterbronne besoedel. Dit kan lei tot die verspreiding van siektes, wat water onveilig maak vir verbruik.
  3. Riool bevat giftige chemikalieë, swaar metale en voedingstowwe soos stikstof en fosfor. Wanneer dit in oop ruimtes oorstroom, kan dit die ekosisteme beskadig, wild benadeel en lei tot die agteruitgang van grond- en waterkwaliteit.
  4. Riool lok plae soos knaagdiere, muskiete en vlieë, wat siektes verder kan versprei. Muskiete wat in stilstaande rioolwater broei, kan siektes soos malariakoors oordra.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.