On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse sakeman skuldig weens vervalste belastingopgawes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:43 Thu, 25 Jul 2024

Bloemfonteinse sakeman skuldig weens vervalste belastingopgawes | News Article
Foto: iStock

“Weens dié bedrieglike optrede deur die beskuldigdes het die inkomstediens tussen 2012 en 2016 verliese van meer as R800 000 gely.”

’n Bloemfonteinse sakeman het tronkstraf vrygespring nadat hy bedrog gepleeg het met belastingopgawes. Hy is egter ’n stewige boete opgelê.

Paul Rafoneke (36) is Dinsdag (23/7) deur die Bloemfonteinse streekhof skuldig bevind en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie (28 van 2011), sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Sy vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy die SAID teen Julie 2029 terugbetaal.

Setshabelo Trading se dienste sluit siviele ingenieurswese, konstruksie-oplossings en mynbouprojekte in. Foto: https://st647.co.za/

Rafoneke het vervalste dokumente van sy maatskappy, Setshabelo Trading, ingedien en moet ’n boete van R100 000 betaal.

“Lede van Bloemfontein se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad het in 2019 dagvaardings aan die beskuldigdes beteken na aanleiding van ’n SAID-verslag oor beweerde indiening van vals belastingopgawes,” sê Mohobeleli.

‘Jan Taks het tussen 2012 en 2016 verliese van meer as R800 000 gely’

“Weens dié bedrieglike optrede deur die beskuldigdes het die inkomstediens tussen 2012 en 2016 verliese van meer as R800 000 gely.”

Setshabelo Trading is in 2008 as ’n beslote korporasie gestig en geregistreer, maar het later in 2013 na (Edms) Bpk omgeskakel ná die regering se pleidooi aan veral swart opkomende entrepreneurs om vir hulself ’n nis in die hoofstroomekonomie te skep, met die oog daarop om die ekonomie te laat groei. Die maatskappy se dienste sluit siviele ingenieurswese, konstruksie-oplossings en mynbouprojekte in.

Intussen moet ’n ander sakeman van Bloemfontein en sy Nigeriese rekenmeester weer op 2 Augustus in die hof verskyn vir bedrog. Die twee word daarvan beskuldig dat hulle Jan Taks tussen 2018 en 2020 uit meer as R1 miljoen bedrieg het, het kapt. Christopher Singo, Vrystaatse Valke-woordvoerder, gesê.

Molefi Nephthali Tloome (49), eienaar van PPK Engineering & Construction, en Eguleme Dee Ebeye (53) het Donderdag (11/7) op aanklagte van die oortreding van die Wet op Belastingadministrasie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn nadat hulle na bewering bedrieglike belastingopgawes ingedien het.

Hulle is op borgtog van onderskeidelik R2 500 en R1 500 vrygelaat.

“Ná ’n voorlopige ondersoek deur die SAID is die twee se beweerde bedrieglike aktiwiteite ontdek,” het Singo gesê. “’n Ondersoeker het vasgestel hulle het vervalste 201-opgawes vir BTW ingedien.”

Weens die bedrieglike aktiwiteite het die belastinggaarder ’n totale verlies van meer as R1,2 miljoen gely.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.