On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vreugde oor Downsindroom-seun van Vanderbijlpark se tuiskoms

───   KAREN VAN DER BERG 10:31 Wed, 05 Feb 2025

Vreugde oor Downsindroom-seun van Vanderbijlpark se tuiskoms | News Article
Kegan Holl en sy stiefpa, Anton Claassen. Foto verskaf

Groot vreugde heers oor die tuiskoms van ’n jong Downsindroom-lyer van Vanderbijlpark ná langer as 30 dae in die hospitaal.

Kegan Holl (17) se ma, Krystle Holl, sê hulle is bly hy het die een gesondheidsterugslag ná die ander oorkom vandat hy einde Desember in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg opgeneem is.

“Hy is die naweek ontslaan en is by die huis. Kegan moet egter op suurstof bly,” vertel sy, maar voeg by sy is bly dit ondersteun hom goed en sy gesondheid is besig om te verbeter.

Brongiale longontsteking

“Ek en hy werk ook hard aan sy oefenprogram en sy eetplan is aangepas. Hoewel hy al hierdie nuwe dinge gewoond moet raak, vaar hy baie goed. Ek is trots op hom.”

Sy sê dit is wonderlik om hom weer by die huis te hê en om hom in ’n roetine te hou.

Kegan het sedert hy ’n baba was keer op keer gesondheidsprobleme ervaar. Dit het alles begin toe hy as babatjie brongiale longontsteking opgedoen het. 

Kegan Holl is ná meer as ’n maand in die hospitaal ontslaan. Foto verskaf

Die tweede terugslag was op 18 maande toe hulle met ’n skok bewus geraak het dat hy verlam is. ’n Gewas weens kiemselkanker het teen sy rugwerwels gedruk.

Ná ’n felle stryd en vele chemoterapiesessies is Kegan eindelik kankervry verklaar. Hy is wel nog verlam en het voltydse versorging nodig.

In Desember het hy ’n nare ontsteking ontwikkel wat sy buik, bene en hande laat swel het. Toetse het gewys hy het ook slaapapnee en skildklierprobleme. 

Spesiale kussing

Krystle sê Kegan se behandeling en al die uitdagings het oor tyd hul sak geruk. “Ons is dankbaar vir die hulp en ondersteuning wat ons nog al die jare kry.”

Dit is ’n swaar pad vir sy geliefdes. “Daar is soveel terugslae en mediese onkoste deur sy lewe.”

Die gesin het ’n BackaBuddy-veldtog om deurlopende koste te help dek. Hulle grootste behoefte is om nou ’n spesiale kussing vir Kegan te koop sodat hy teen ’n sekere hoek kan slaap.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.