On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Groenvlei-ongeluk: Curro-leerders privaat vervoer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:39 Wed, 05 Feb 2025

Groenvlei-ongeluk: Curro-leerders privaat vervoer | News Article
Talle leerders is beseer in die ongeluk in Heuwelsig, Bloemfontein. Foto: Charne van der Merwe

Die leerders van ’n Bloemfonteinse privaat skool wat Vrydagmiddag (31/1) in ’n padongeluk betrokke was, is vervoer deur ’n bestuurder wat ouers privaat gekontrakteer het.

Talle leerders van Curro Bloemfontein is Vrydagmiddag (31/1) ná skool lig beseer in die botsing in Heuwelsig, net ’n week nadat drie laerskoolkinders hul lewe verloor het in ’n botsing op die kruising van die N8 en Krugerlaan oos van die stad.

Volgens ooggetuies het die bestuurder van die minibus wat die leerders vervoer het, na bewering nie stilgehou by die stopstraat op die hoek van Reynecke- en Frans Kleynhanslaan nie.

Die bestuurder wou uit Reyneckelaan skuins oor in Ray Championstraat draai toe hy in ’n Hyundai i10 vasry wat in Frans Kleynhanslaan in die rigting van Lucas Steynweg op pad was. Die Hyundai-bestuurder, wat verkies om anoniem te bly, het gesê blykbaar het die minibusbestuurder gemeen hy sou vinnig genoeg die pad kon oorgesteek het.

Volgens ooggetuies het die Hyundai i10 uit Woodland Hills se rigting aangekom toe die minibus na bewering voor hom ingery het. Foto: Charne van der Merwe

Weens die impak van die botsing het die minibus ook in ’n Volkswagen Caddy vasgery wat by die stopstraat in Ray Championstraat gewag het. Leerders is by die minibus se agterruit uitgeslinger en het voor die Caddy beland.

“Dit was nie ’n Curro-voertuig of ’n Curro-bestuurder wat by die ongeluk betrokke was nie,” sê Annieka van Blerk, die skool se bemarker.

‘Taxibestuurder het weggehardloop’

Etlike leerders het beserings opgedoen, hoewel die presiese getal en omvang nog nie bevestig is nie. Van Blerk kon by navraag nie bevestig of enige beseerde kinders na ’n hospitaal geneem is of berading ontvang het nie.

Sommige het snye en wonde aan hul bene en hande opgedoen, terwyl twee seuns na bewering kopbeserings gehad het.

“Die taxibestuurder het ná die ongeluk uit die bussie geklim, met ’n geskokte uitdrukking op sy gesig na my motor gestap en toe weggehardloop,” het die Hyundai-bestuurder op die toneel gesê.

Die minibus (links) het in die Hyundai (regs) vasgery in Frans Kleynhanslaan en toe die Caddy (middel) op die oorkantse stopstraat (Ray Championstraat) getref.

Geen klagte is by die polisie aanhangig gemaak nie, sê kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Sy kan nie bevestig of die bestuurder opgespoor is nie.

Die skool verseker ouers en die gemeenskap dat die veiligheid en welstand van die leerders sy hoogste prioriteit bly.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.