On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Virginia se DBV skep hokkies om diere te los

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:19 Wed, 05 Feb 2025

Virginia se DBV skep hokkies om diere te los | News Article
Die hokke is ontwerp met die diere se veiligheid en gerief in gedagte. Foto verskaf

Inwoners van die Vrystaatse Goudveld hoef nie meer diere op straat te los nie.

Of hulle nou ’n rondloperdier gekry het, maar dit nie by die huis kan hou nie, of swaarkry en nie langer na hul troeteldier kan omsien nie, die DBV bied nou ’n veilige oplossing. 

Ses maande gelede het die DBV-span op Virginia ’n toenemende behoefte in hul gemeenskap bespeur. Personeellede het gereeld soggens op hartverskeurende tonele afgekom: diere, veral groot honde, wat snags oor die vereniging se muur gegooi is en dikwels beserings opgedoen het van die val, vertel Thea Smit, voorsitter van die DBV-komitee.

‘Sodra ’n dier van buite in die hok geplaas word, sluit die deur’

Die span was vasbeslote om nog skade en beserings te voorkom en het met die ondersteuning van die gemeenskap veilige nauurse en naweekhokke gebou waarin diere veilig gelos kan word wanneer die DBV gesluit is.

“Hierdie hokke is ontwerp met die diere se veiligheid en gerief in gedagte,” vertel Smit. “Daar is aparte, duidelik gemerkte hokke vir katte en honde. Die kathokke sluit sandbakke in.”

Smit verduidelik sodra ’n dier van buite in die hok geplaas word, sluit die deur en kan dit dan slegs van binne af deur die personeel oopgemaak word om te verseker dat niemand van buite met die hokke of diere peuter nie.

Die hokke vir die katte. Foto verskaf

Elke hokkie is toegerus met komberse, kos en water om die diere gemaklik te hou totdat ’n personeellid hulle kom uithaal.

Sy vertel vandat die hokke bekendgestel is, word hulle daagliks gebruik. “Elke maand word sowat 150 honde en 40 katte na die DBV gebring: óf gevind as rondlopers en in die nauurse hokke gelos, óf oorgegee deur eienaars wat nie meer vir hulle kan sorg nie. 

“Baie van hierdie diere sluit mammas in met ’n werpsel hondjies of katjies.”

Die hokke vir die honde het kos, water en 'n kombers. Foto verskaf

Smit, wat die afgelope 16 jaar by die DBV betrokke is, vertel van die wrede werklikheid waarmee baie troeteldiereienaars te kampe het. “’n Vrou van Welkom, wat vroeër ’n bevoorregte lewe gelei het, het ons Maandag (3/2) uit desperaatheid gebel. 

“Sy het alles verloor en met 13 honde in haar motor gewoon.”

Virginia se DBV wys geen dier weg nie, sê Smit. “Ons neem elke dier in, ongeag die omstandighede.”

‘Soms gebeur die lewe’

Smit sê sy weet mense word kwaad as ander hul honde by hulle kom los, “maar soms gebeur die lewe. Mense verloor hul werk, hul huis, en hulle kan nie meer hul diere finansieel ondersteun nie”. 

Dit is beter om jou hond in die hondehawe te los waar hy of sy veilig is en versorg word as om hulle in ’n park of op straat te los.

Sy vra intussen inwoners moet liewer aanneem as om troeteldiere te koop. “Hier is soveel diere wat ’n goeie huis nodig het.”

Die hokke kan nie weer van buite oopgemaak word as dit reeds toegemaak is nie. Foto verskaf

Aansienlike finansiële uitdagings staar die DBV in die gesig, onder meer brandstof, wat pas weer duurder geword het, en die reuse-onkoste van dierekos. Alle skenkings sal met dank ontvang word om dit steeds vir hulle moontlik te maak om diere te versorg.

“Ons weet almal het hul eie lewe, maar ons het regtig mense nodig om te help, of dit nou is om geld vir die DBV in te samel, om die hokke reg te maak wanneer hulle herstelwerk nodig het, of om net met die honde te stap en met die katte te speel. 

“Elke bietjie hulp maak ’n verskil.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.