On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Krieketdag beloof hoop vir Sasolburgse leerders met MS

───   ZENANDE MPAME 13:29 Wed, 05 Feb 2025

Krieketdag beloof hoop vir Sasolburgse leerders met MS | News Article
Krieketdag beloof hoop vir Sasolburgse leerders met MS. Foto verskaf

’n Krieketdag word vir Saterdag (8/3) by die North Primary School op Sasolburg beplan om leerders en mense met veelvuldige sklerose (MS) hoop en vreugde te bring.

Leerders en belangstellendes kan spanne van agt registreer, en enigiemand tussen nege en 99 kan gerus deelneem en van 09:00 tot 12:00 meer oor MS te wete kom. Verversings sal te koop wees.

Dié projek is deel van die uitdagings wat MS Hope, ’n groep gestig deur Rozaan Steyn, gereeld aanbied. Sy leef al byna vyf jaar saam met MS.

“Ons het besluit om hierdie geleentheid vir leerders met MS te reël, want dit is ’n uitdagende siekte en ons wil pret hê en vreugde bring vir mense wat daarmee saamleef,” vertel sy.


“Ons wil ook hoop gee aan leerders en wys dat ons steeds lekker kan leef ten spyte van die siekte. Ek het hierdie projek aangepak om my vriende met MS moed in te praat.”

MS ontstaan wanneer die immuunstelsel die brein en rugmurg aanval. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het meer as 1,8 miljoen mense wêreldwyd MS onder lede.

Mense se simptome verskil en hang af van waar en hoe erg senuwees beskadig is. Dit sluit dikwels sigprobleme, moegheid, loop- en balansprobleme, gevoelloosheid of swakheid in die arms en bene, en spierstyfheid in.

Rozaan Steyn leef al byna vyf jaar met MS. Foto verskaf

Simptome kan wissel, soms opvlam of lank aanhou. Hitte of infeksies soos urienweginfeksies of asemhalingsiektes kan simptome vererger. Hoewel die oorsaak van die immuunstelsel se aanval op miëlien (die senuweebedekking in die brein en rugmurg) onbekend is, word omgewings- en genetiese faktore vermoed. MS raak hoofsaaklik jong tot middeljarige volwassenes en kom meer voor by vroue as by mans.

“Ek wil hê mense met MS moet weet dat hulle steeds pret kan hê, lag en hulself geniet ten spyte van hierdie moeilike siekte,” sê Steyn.

“Die MS-vegters wat aan die krieketdag gaan deelneem, sluit mense in rolstoele, met looprame en elektriese stoele in. Ons nooi almal om saam met ons te kom kuier en die dag te geniet.”

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.